’n Kerkgeskiedenisles op vier klein wieletjies

luther-95

“Is mos ‘ie pous wat vir Luther uit die kerk geskop het, omdat hy nuwe en vreemde dinge begin leer het, nie waar nie?”

“So bietjie na 31 Oktober 1517 toe hy daardie 95 standpunte met ’n hamer teen daai kerk in Wittenberg se deur vasgeslaan het, was ’it nie?”

“Ek bedoel, die pous het die uitskop-werk gedoen en Luther is die een wat toe uit is. Met ander woorde, die pous het in die ou kerk agtergebly en Luther het toe maar ’n nuwe ding begin, tipe van oor begin – die protestante en al die vertakkings wat toe daaruit voortgekom het, nie waar nie?”

Antwoord: NEE! [In hierdie konteks word daar met “nee”, werklik “nee” bedoel.]

Gewoonlik is dit eers die les, en dan êrens gedurende of daarna die illustrasie. Maar kom ons doen dinge hierdie keer bietjie anders-om, in hierdie katkisasionele-terugkyk oor ons gereformeerde skouers, in hierdie halwe-milleniale-terugblik die ekklesiologiese [kerklike] geskiedenis in.

Benodighede vir die illustrasie:
1. Een skaatsplank (Engels: skateboard)
2. Harde gelyke oppervlakte langs ’n huis, woonstel of gebou
3. ’n Huis, woonstel of gebou

Vooraf waarskuwing:
Indien u oor 45 is (Dis die afsnypunt vir jonk wees volgens die ou Grieke – Felix Baumgartner die Red Bull waaghals is ook nou min-of-meer so oud) mag dit dalk wys wees om hierdie kerkgeskiedenis illustrasie aan ’n jonger geslag op te dra en te verduidelik.

Instruksies:
1. Laat die fris jong man die skaatsplank naby aan die “huis, woonstel of gebou” op die “harde gelyke oppervlakte” langs dit neersit. Die plank moet soos die lang kant van die letter T ten opsigte van die huis staan.
2. Laat die fris jong man op die skaatsplank klim en seker maak dat hy stewig daarop staan. Hy behoort nou naby genoeg aan die muur van die gebou te wees dat sy arms moet buig as hy teen dit druk.
3. Laat hy so effens in die rigting van die muur leun.
4. Laat hom dan met albei sy hande druk teen die muur van die gebou.
5. Hierdie deel is die gevaarlikste en die belangrikste van die hele illustrasie. Laat die seun nou met al sy mag en krag probeer om die huis om te stoot terwyl hy uit absoluut volle bors die volgende uitskreeu: “VOETSEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEEK!!!!!!!!!!!!!”

[Indien die illustrasie korrek uitgevoer is met die nodige balans en rigting behoort daar gewaar te word dat nieteenstaande die jong man se intense krag en stoot vermoë – mens sou sy oorverdowendheid ook kon byvoeg, behoort hy en nie die gebou in die teenoorgestelde rigting te beweeg nie.]

Daar’s hy. Hoop u het dit geniet (of – hoop u geniet dit).

Terug na ons les:

Wanneer Pous Leo X die jong Duits-Augustiniaanse monnik in sy pontifikale bul [amper soos ’n lewensbedreigende amptelike e-pos vandag] Exsurge Domini uit die kerk uitskop [die tegniese term is ekskommuniseer] was leeutjie nommer 10 in der waarheid soos die seun op die skaatsplank wat aan sy protestantse-opstroppolese opponent “Voetsek!” geskreeu het. Maar met die stoot, dit is ons belydenis, het hy wat hoof was en is van die valse kerk, homself en al sy verknogte volgelinge verder van die ware Evangelie-bedienende kerk, asook van die boodskap van God se Woord af weg gestoot. Wat op daardie dag teen Luther uitgevaardig is, is later by die Konsilie van Trente vanaf 1546 tot 1563 bekragtig met omtrent 135 vervloekings teen alle opponente van die man wat sit op die STOEL in Rome.

Die opskrif van Luther se antwoord op die Roomse jy-is-van-nou-af-’n-terroris verklaring, was TEEN DIE VERVLOEKTE BUL VAN DIE ANTICHRIS [Luther was nie ’n slapgat nie]. In daardie opstel van Luther is veral die volgende woorde van uiterste belang vir ons vandag:

“…En soos hulle my ge-ekskommuniseer het vir heiligskennis en kettery, so ekskommuniseer ek hulle in die naam van die heilige waarheid van God. Christus sal oordeel wie se ekskommunikasie sal staan, Amen… [Latyn: Et sicut ipsi me excommunicant pro sacrilega haeresi sua, ita eos rursus ego excommunico pro sancta veritate dei. Christus Iudex viderit, utra excommunicatio apud eum valeat, Amen.]”

Die punt?

Dit is in der daad Martin Luther wat die voorsitter van die kardinale van die wêreld [lees: pous] en die wat hom van harte gehoorsaam het, van die ware kerk van die Here Jesus Christus afgesny het. Hierdie is in der daad ernstige woorde, maar dit is die protestantse uitkyk op daardie gebeure. Onthou dit!

Ek’s redelik seker dat as die jongman wat die bogenoemde kerkgeskiedenis illustrasie uitgevoer het uitvind dat hy eintlik die rol van die pous speel – veral as hy belydend Gereformeerd is, hy redelik omgekrap oor die storie sal wees. Maar laat hy hom dan tog daaraan troos, dat hy nie ’n pousgesinde is nie, en laat hy ook leer hoe om aan Rooms-Katolieke wat wel dieselfde doop as ons deel te vertel van die vrymakende redding van die Goeie Nuus, die Evangelie. Dit is dat God ons, hel-verdiende sondaars heeltemal vryspreek van ons sonde en van die oordeel, deur die geloof alleen, in Christus Jesus alleen, uit genade alleen. Aan God alleen die eer.

AMEN.

[Gaan haal nou daai skaatsplank]


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s