OOR STERWENDE SKANDES EN CADAC BOTTELS – wanneer die wêreld jou gewete vorm

blou-gasbottel

Kan  jy onthou toe jy so bietjie jonger was en een van jou ouers in ’n gesprek die volgende woorde uitgeroep het?

“Nee, sies man! Nie voor die kinders nie!”

Toe hierdie of daardie Oom-hulle se egskeiding iets was wat in gesprekke vermy en nooit op die tafel was vir bespreking nie.

Of oor daardie tannie-hulle se dogter wat “in die moeilikheid geraak het” en toe uiteindelik moes trou om die skande van die strate en uit die mense se monde te hou.

Kan jy onthou hoe jy ook gegril het toe jy uiteindelik in die grootmense se geselskap toegelaat is, en een van die Ooms in die sitkamer met so ’n gedempte stem gesê het: “Wat ’n absolute skande…” terwyl hulle so-en-so se naakte dierlikheid Saterdag aand na daai drink-partytjie in die dorp, bespreek het.

Kan jy onthou hoe daar nog gewaarsku is teen matriek-vakansies by die see, en al die gevare wat dit veral vir die meisies se reinheid ingehou het?

Kan jy onthou toe julle daar in Europa verby daardie sekswinkel geloop het en nog met ontstelde afgryse kon uitmaak waarvoor party van die goed in die ruit dalk gebruik word? En hoe bly jy was dat jy van Suid-Afrika kom waar sulke verrotte Europese drek nooit eens geruik sal word nie? Kan jy darem iets hiervan onthou? Kan jy onthou hoe stil die strate op Sondae was?

Wie onthou nog Boekevat en Kompas op die TV?

La, la, la.

En toe.

Vervel.

Die slang, en ons word die geleentheid gegee om met ons eie neuse te ruik wat die mure van ons klooster al daardie jare veilig, dig, en buite gehou het. Die hipnotiese gas wat millennia gelede ontwerp is om tot by daardie plek aan die mens se binnekant te syfer waar daar nog besef word wat heilig, skoon en mooi, maar ook wat vuil, donker en walglik is. Hierdie walms oorweldig die on-oplettende persoon, soos wat die dampe van ’n blou CADAC bottel wat lek, die niksvermoedende-slapende-vakansiegangers – op die bed in hulle karavaan, deur neusgat-en-suigende-mond binnedring. Asemteug vir asemteug, nader na die cul de sac van ventilasie toe.

Ek dink soos Totius vir ons die euwels wat met die groot stad gekom het so mooi in sy bekroonde “Trekkersweë” geskilder het, wag daar 77 bladsye vir hom of haar wat vir ons ’n soortgelyke werk gaan oopskryf, oor alles wat in ons huise ingekom het met die groot bruin-en-glas Telefunken boks, wat met die driehoek-drie koper stafies by die muur inprop.

Toets bietjie hierdie een met jou man of met jou vrou: Vra hom watter dinge vandag nog as ’n regte SKANDE beskou word. Noem bietjie daardie dinge wat vroeër nie eens oor gepraat is nie, en wat nou so flink-tong bespreek word soos wat oor ’n wit draai roomys by McDonalds gepraat word.  

Wat is die gewete van ’n samelewing? Oeps! Het ’n land ’n gewete nodig?!

JA: Wie of wat is dit dan?

NEE: Waarom kla almal dan so oor die morele en maatskaplike verval as ’n land nie ’n reg-of-verkeerd koorspen nodig het nie? ’n Gaan-nou-soontoe ding, of daai tipe klankgolf wat met oorweldigende gesag en oortuigings vermoë vir almal sê: “Ja, ja! Nee, nee!”

En as die kerk van die Here Jesus Christus in der daad die gewete, ja die stem in die woestyn vir die land waarvan sy lidmate ID dokumente het moet wees, vanwaar af sou daardie kerk weet wat die standaard vir aanvaarbaar en onaanvaarbaar moet wees? Lê dit op die vlak van die Dominee se opinie, of dalk op die vlak van wat my oupa-se-oupa altyd gesê het? Of die standpunt van die groot filosowe deur die eeue heen? (Studeer die predikante nog filosofie?) Of van waar?

Jy wat jou op die wysheid roem,

wat sou jy die waarheid noem?

Wat ’n land uit ’n groot gemors kan vat,

Sê net wie of waar of wat?

Geliefde vriende, as skandes hulle skandelikheid verloor het, en gruwels gister se nuutste mode is, is dit dan dat die heilige Woord van God stil en stom geword het in daardie samelewing.

“Nee,” sê iemand “God se Woord is nie stom nie, maar lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard!” Mooi. Maar waarom het die oerwoud en onkruid dan alles terug gegroei? Dalk is jou swaard nie stomp nie, maar is hy in jou hand?

Mag die Here deur sy genade en goedheid aan elkeen van ons wat onsself christene noem bekering en geloof skenk. Om ons sondes teenoor sy heilige wet voor Hom te bely, dit te laat staan, en vergifnis by die kruis van Jesus Christus te vind. En dan die woorde: “Skande”, en “vergifnis” plegtig en met hoop en blydskap terug te gee aan ’n land en aan ’n wêreld wat God glad nie meer ken nie.

“Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem.” Efesiërs 5 vers 12


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s