WANNEER KARL MARX IN DIE POT VAN GESONDHEID-GELD-EN-GELUK-TEOLOGIE GEGOOI WORD

marxistiese-gebede

(‘n Skermskoot geneem op Saterdag 28 Januarie 09:43:04 am 2017, van ‘n gebed vir die genesing van die gehospitaliseerde Gospel sanger Lundi Tyamara, deur die “Economic Freedom Fighters” se Floyd Shivambo – ‘n self-erkende Marxistiese aktivis.  “Rapha” is die Hebreeuse woord wat verband hou met genesing.)

‘n OPSOMMING van wat hier onder staan:  Dit is ‘n korterige verduideliking van hoe die Voorspoedsteologie die pad voorberei het vir die geleidelike Marxistiese oorname van ons land se jongmense.

Wanneer Karl Marx in die pot van Gesondheid-Geld-en-Geluk-teologie gegooi word en jy kook die mengsel teen die regte temperatuur, en roer die lepel teen ’n reëlmatige tempo, mag proletariese El Dorado dalk teen die sewende jaar van onteienings en trompop-arrestasies van alle anti-rewolusionêre, glansend op die oggend-horison verskyn…

’n Alternatiewe titel vir hierdie stuk vandag sou ook die volgende kon wees: “OOR DIE BIDDENDE MARXISTE IN ONS LAND”. 

GGG-teologie, met ander woorde, Gesondheid-Geld-en-Geluk-teologie is in der daad soos die eerste letters daarvan aantoon, ’n GEE-GEE-GEE-teologie: Gesondheid; Geld; en Geluk. Nee, dis nie heeltemal dieselfde as Ralph Rabie (jy onthou nog vir Johannes Kerkorrel, nê?) en sy Hillbrow-deuntjie se koor gedeelte nie.

Want hierdie jippie-jippie-teologie – met al sy vertakkings, wat in ons tyd nou al ouer as ’n eeu is, se standpunt oor hierdie dinge klink in-der-daad so:

“GEE vir my Gesondheid, want Jesus Christus het mos gesterf daarvoor dat ek altyd gesond kan wees!

GEE vir my Geld want Jesus Christus het mos self belowe dat Hy gekom het sodat ek lewe en dit in oorvloed kan hê!

GEE vir my Geluk want ek het self lewe gekies en daarom moet ek nou die kop en nie die stert wees nie!”

Hierdie duiwelse verdraaiing van die Bybel se boodskap kan gewoon ’n teologie van op-eising genoem word: Jy skuld my, waar is dit?

Nou.

Wanneer jy in jou gebede, eis en aandring, en eis en eis en skree en eis en bulderend die klankgolwe deur jou nek stoot dat die are van jou oor tot hier onder jou kraag dik staan, en niks gebeur nie, wat dan?

Wat nou? Jy’t verstaan dat al die goed joune is, en jy’t jou groen ID dokument op die regte plek vir hulle oopgemaak, maar nou wil die hek nie oopgaan dat jy die goud in jou bakkie kan laai en huis toe gaan nie. Wat doen mens wanneer die kerk (” “) se boodskap nie werk nie?

Dames en Here wat jy dan doen, is jy omhels enige politieke leier wat hierdie dinge aan jou helder en duidelik belowe. Jy omhels hom asof hy ’n engel uit die hand van God is (natuurlik tong-in-die-kies bedoel). My Sondag prediker het dit aan my belowe, en my politieke leier gaan dit vir my GEE (punt).

Wie’s verbaas dat “Gospel” sangers op Marxistiese verhoë die skare vermaak?

Wie’s verbaas dat kommuniste ook bid?

Moenie verbaas wees nie.

Jou glans-teologie – van die GGG (Gesondheid-Geld-en-Geluk) weergawe, het dit vir hom moontlik gemaak.

Dink weer.

En dink nog dieper.

Besef watse soort saad jy besig is om in die grond te plant.

Tussen hakies, Lundi is so ’n paar weke gelede begrawe.

Ek het ’n klein (een-sin) liedjie wat ek jou wil leer. Hy’s vir my mooier as die anti-gereformeerde ensemble van Ralph en Rampokkers (GBB – vir die wat nog onthou) se 90-er pogings. Hy gaan so:

Bring my die ou-ou tyding, die Heidelbergse lied… (jy kan my Whatsapp vir die wysie, as jy dit wil hê):

Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

“Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.”

“Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.” Mattheus 10 vers 30

“En toe Elisa siek was aan die siekte waaraan hy sou sterwe…” II Konings 13 vers 14a.

“Die wat my liefhet en my vriende is, staan opsy vir my kwaal, en my nabestaandes het ver gaan staan.” Psalm 38 vers 12.

“Moenie langer water alleen drink nie, maar gebruik ’n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde ongesteldhede.” I Timotheus 5 vers 23.

“Erastus het in Korinthe gebly. Trofimus het ek siek in Milete agtergelaat.” II Timotheus 4 vers 20.

“Maar Ek sê vir julle met waarheid, daar was baie weduwees in Israel in die dae van Elia toe die hemel toegesluit was drie jaar en ses maande lank, toe daar ’n groot hongersnood gekom het in die hele land, en na nie een van hulle is Elia gestuur nie, behalwe na Sarfat in Sidon, na ’n weduwee. En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van Elia, die profeet, en nie een van hulle is gereinig nie, behalwe Naaman, die Siriër.” Lukas 4 vers 25 tot 27.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s