ONS VERKNOGTHEID AAN EKSTATIESE ONKUNDE

ten-commandments-oklahoma

[Foto van die tien gebooie in Oklahoma wat volgens hofbevel in hierdie tyd verwyder moes word]

“Nee, ek weet nie. Los my uit, ek verkies dit so…”

Nie seker of jy die afgelope dekade of wat die sogenaamde nuwe-ateïste so effens gevolg het nie. Dis nou die name van veral die volgende berugtes: Richard Dawkins, Christopher Hitchens, Daniel Dennet en Sam Harris. Daar het met loop van tyd seker hier en daar ’n naam of wat bygekom. My idee is nie om in groot detail oor hulle uit te wei of baie oor hulle anti-God boeke te sê nie. Wat ek wel wil noem is veral die een saak wat so helder en duidelik uitkom in die debat wat Douglas Wilson en Christopher Hitchens gehad het – wat gesien kan word op die internet onder die titel “COLLISION”, en dit is die mens se natuurlik haat daarvoor om voorgeskryf te word.

“As jy vir my gaan sê: Dit is reg, en dat is verkeerd, wat is die verskil dan tussen jou en ’n Noord-Koreaanse paradys, huh?!”

As mense is ons heeltemal gelukkig en tevrede met verklaring-op-verklaring oor ons eie persoonlike regte. Maar vra bietjie mense se tyd om te luister na die UNIVERSELE VERKLARING VAN MENSE VERANTWOORDELIKHEDE – dit is die heilige wet van God, dan is hulle lankal al, roomys-lekkende om die hoek van die sypaadjie. Jy dog nog jy vra:

“Skuus julle, wat’s fout? Is dit iets wat ek gesê het?”

“Oeg nee wat, ons is vry van die wet dankie. Ons het Paulus gelees…” (Duidelik nie die Paulus wat die wet “heilig, regverdig en goed” in Romeine 7 noem nie). 

Al die beloftes  van die Goeie Nuus, luister ons so graag na. Amper soos iemand wat vermoed dat sy vrek siek is, maar dan ‘n groot bedrag geld aan haar man gee om vir die chirurg te gee sodat die chirurg by haar volgende besoek gewoon mooi sal glimlag en sê:

“Ag nee wat mevrou De Bruyn, jy het niks om oor bekommerd te wees nie, alles lyk vir my piekfyn.”

Die Doktor het sy monitêre-geskenkie ontvang, gelieg en ’n effens senuweeagtige dame die vermoë gegee om daardie aand weer ’n bietjie rustiger te slaap (weet nie of so iets al ooit gebeur het nie).

Maar ek en vroulief het in ons tyd in die Oekraïne iets soortgelyks beleef toe ’n Krim-Tataar dame nie aan haar pa die presiese diagnose van sy longkanker wou meedeel nie. Sy’t gevoel dit sou aan hom ’n rustiger laaste paar dae besorg. “Ignorance is bliss!” sê hulle in Engels. Ons sou dit seker “Ekstatiese Onkunde!” noem.

Die probleem is natuurlik beloftes van “alles is reg”, beteken nie noodwendig dat alles wel reg is nie. Ons hou nie daarvan om te hoor wat fout met ons is nie, en ons haat dit ook om voorgeskryf te word. Hierdie twee dinge is presies wat die heilige wet van God in ons lewens moet doen.

Om die blydskap van redding te mag beleef moet jy eers insien en erken dat jy reddingloos is – dit is, nie net ongered nie, maar verlore, sleg, ’n sondaar. Jy sal dit nooit self met jou eie oë kan sien nie – niemand van Adam se kinders kan dit helder en duidelik sien nie. Dis waarom die Here sy heilige wet aan ons gegee het. Lees dit biddend deur. Dink daaroor. Lees ander dele in die Bybel wat daarmee verband hou. Meet jou liefde aan die Here hiermee, en bely dan jou sondes, en vlug dan na die kruis van die Verlosser vir vergifnis van jou sondes.

BELANGRIKE VRAAG: Is die eenkant-toe-skuif van die tien gebooie van die Here, nie een van die redes vir die kerk se onvermoë om ’n reguit woord oor seksualiteitsvraagstukke vandag te gee nie?

Jy sien, die tien gebooie is nie die tien voorstelle nie.

Die tien gebooie is ook nie die 10 standpunte nie.

Dit is ook nie  die tien oortuigings, opinies, of debatspunte nie.

Dit is tien heilige onveranderlike EISE van ’n heilige God aan die ganse mensdom. Hy het dit persoonlik op twee klip-tafels uitgegrafeer – gaan lees dit. Verwerp jy dit, dan verwerp Hy jou. En sal jy die prys daarvoor betaal.

Nie:

“Hoe voel jy daaroor? Sou jy sê dis ’n sonde?” nie.

Nee, eerder:

“Wat sê God se heilige wet daaroor?”

Die kerk wat nie openlik ongehoorsaam durf wees nie, het ‘n ander toertjie:

“Ekskuus, hoe sê jy?”

“Kan nie mooi hoor nie, jy breek heeltyd op. Bel weer…”

Die duiwelse leuen dat God nie helder en duidelik oor hierdie sake praat nie.

Dis juis waarom liberale teoloë eers dit wat helder en duidelik in God se Woord sonde genoem word kompliseer. Jy moet mooi oplet hoe hulle dit doen.

“O, dis nie so eenvoudig nie, in die antieke tyd…”, probeer hulle jou met meerdere kennis oorweldig.

As hulle jou eers in hulle komplisering van die sonde toegespin het, dan steek hulle die skerp breipen deur jou hart en gewete en verwyder so wat nog van jou heilige kennis van reg en verkeerd oorgebly het.

“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.” Eksodus 20 verse 2 en 3.

Here dankie vir U heilige wet, want dit wys aan ons sondaars, juis hoe nodig ons die Here Jesus Christus het. Amen.


One thought on “ONS VERKNOGTHEID AAN EKSTATIESE ONKUNDE

  1. Ai, die mens se beheptheid met mense regte en hul eie vryheid dra regtig by tot die groot verval en wegbreek van die Woord van God. Die verskoning? Elkeen is vry om ‘n eie (meestal selfsugtige) keuse te maak! Ongelukkig help dit niemand niks nie..
    Frikkie, jy praat die waarheid in elkeen van jou blogs sover en ek sê baie dankie daarvoor. Mag Jesus se ryke seën op jou rus.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s