EEN GODSDIENS, BAIE AFGODSDIENSTE

pope-quran1[Pous Johannes Paulus II wat hier op 14 Mei 1999 in die teenwoordigheid van ‘n Irakese afvaardiging die Koran soen]

Dit was veral na die aanvalle op Amerika se “Twin Towers” en op die “Pentagon” op 11 September 2001, dat die idee van Abrahamitiese beskawings  ingespan is in al wat ’n tydskrif, internet-blad of TV- en Radioprogram is. Ook op Universiteite het dit meer en meer prominent na vore begin kom. Hierdie idee het so te sê baie “nodig geword”, om die droom van vrede tussen godsdienste en uiteindelik vrede op aarde te “red met woorde”. Alles het dan so goed begin gaan voor daai tyd – die Berlynse muur het so ’n dekade of wat vroeër sy kommunistiese agter-ent gesien; die gevreesde Sowjet Unie se matrjoesjka poppie het in houtskerwe op die  kapitalistiese opelug mark se vloer uitmekaar gespat; en dalk meer nog, Amerika was hoër as die sterre in glans en glorie. Hoe kom foeter hierdie “manjifieke 19” (soos sommige Mohammedane in Brittanje na die matsnyer-klemmende kapers van die drie boeings  begin verwys het) toe nou alles op? (“Dalk het ons ook baie van die blaam te dra vir wat op daardie dag gebeur het”, het talle westerlinge self-martelend en bewend begin prewel. “Hulle moet ons tog haat vir ’n rede” is daar gesnuif-snuif vir ’n antwoord.)

Maar wat is hierdie idee van Abrahamitiese beskawings dan en waar kom dit vandaan?

Die denke agter die term klink min of meer so: Die godheid van Jesus Christus is ’n onoorkomelike probleem om vrede tussen Christenskap; die Mohammedanisme (ook Islam genoem); en die Judaïsme te bewerkstellig. Daarom sal ’n ander gemeenskaplike brug tussen hierdie drie “grotes” gevind moet word om ons wêreld saam te bind oor die dinge waaroor ons saamstem. Teoloë, filosowe en denkers het kop gekrap en dit wil voorkom of die Roomse teoloog Hans Kung die een was wat toe uiteindelik die wasbolletjie tussen wysvinger en duim met die grootste vernuf kon begin rol:

“Eureka! Abraham lê stewig vasgemessel in al drie se geskiedenis, en al drie hou van hom! Abraham sal dit wees.”

En in der daad leer die christene se Galasiërsbrief dat almal wat in Jesus Christus glo kinders van Abraham is, en erfgename volgens die belofte. In die Mohammedanisme word Ibrahim, haliel Allah – vriend van Allah genoem, en sê miljoene der miljoen Arabiere dat hulle van sy oudste seun Ismail afstam (die waarheid van laasgenoemde word deur talle navorsers betwyfel). Ook die Judaïste – ongelowige Jode, kyk na Avraham as die eerste Jood aan wie die beloofde land Erets Yisrael (later so genoem) beloof is, en aan wie die bris – besnydenis, gegee is. Hulle herlei ook hulle eie stamboom direk na hom terug, deur Jitsgak en Jakow.

Voila! (Frans), So daar het jy dit nou. Vrede op aarde, en hulle trek hulle gordyn voor Jesus toe (so dink hulle), en almal is gelukkig. Selfs die christene blyk tevrede te wees, want wie wil nou die belydenis van Nicea – wat so helder en duidelik Jesus Christus se godheid uitspel, op die tafel sit as jy vrede met die Islamitiese Staat en met Gopstein se Lehava of met Yad l’agiim – in Israel wil nastreef. Want so iets mag jou dalk ’n paar pinte bloed kos, en wat beteken dit in elk geval om dapper te wees – veral in die Weste vandag?

So wat is ’n  Abrahamitiese beskawing? Dis juis die goeie nuus, daar is nie net een nie. Dit sluit al die Mohammedaanse lande; Israel en ook al die ander lande wat tradisioneel “christelik” was in. Min of meer die grootste deel van die wêreld. Met oor ’n biljoen pousgesindes (lees: Rooms Katolieke); en ook meer as ’n biljoen Mohammedane (lees: Moslems) wat nou nie meer veg met mekaar en bomme of vliegtuie plant nie, kan ons almal seker saam ’n potjie dambord of “Monopoly” uitprobeer, of hoe?

Kyk net hoe helder en duidelik spel die pouslike kategismus vanuit die negentiger jare hulle ooreenkoms met hulle Midde-Oosterse bure uit (direkte aanhaling in Engels):

    “841 The Church’s relationship with the Muslims. ‘The plan of salvation also includes those who acknowledge the Creator, in the first place amongst whom are the Muslims; these profess to hold the faith of Abraham, and together with us they adore the one, merciful God, mankind’s judge on the last day.’ ” http://www.vatican.va/archive/ENG0015/__P29.HTM

Let op die bepaalde lidwoord “the” in “the one, merciful God”. Rome en Mekka, so sê Rome (en die Koran ook tussen hakies) aanbid dieselfde god.

Maar dan is daar natuurlik altyd daardie opstroppolese christene wat Jesus se swaard verkies bo die vrede. Kan jy onthou? Daardie onpassifistiese heilige swaard waarvan Hy gepraat het toe Hy gesê het dat Hy nie vrede op die aarde gebring het nie, maar ’n (?)______, en dat ’n mens se vyande die van sy eie huishouding sal wees. Kan jy onthou?

Dit is hulle wat Rome heel moontlik steeds Antichris sal noem soos hulle voorouers as hulle I Johannes 2 vers 22b uitbasuin: “Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën”. Want om gemeenskaplike grond met Mohammedane – wat die Vader en die Seun loën, te vind, moet jy tog self eers jou rug op God drie-enig draai en die Bybel toemaak.

Dit is ook hierdie christene wat aan Pous, Khalifa en Opper-Rabbi vreesloos sal verkondig dat die enigste weg tot redding en tot God deur die Here Jesus Christus is wat gesê het: “Ek is die weg, en die waarheid, en die lewe, niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.”

“Nie regtig ’n resep vir wêreld vrede nie!” sou die Abrahamitiese Beskawings Polisie uitbulder.

Hoewel ons weet dat ware wêreld vrede slegs ons planeet sal besoek wanneer die laaste mense knieg voor die Prins van Vrede geknak het – net so voor, of dan op sy koms.

Mag daardie dag spoedig aanbreek!  

Alle lof en eer tot in alle ewigheid aan die Vader, Seun en Heilige Gees, een God. Amen.

 


2 thoughts on “EEN GODSDIENS, BAIE AFGODSDIENSTE

    1. 1. Die kansel én die troon is heilig.
      2. Op die héél minste beteken dit die “onbeskaamde bevoordeling van die christelike godsdiens”. Met ander woorde, níé ‘n gelyke speelveld van godsdiens met afgodsdienste nie. Byvoorbeeld ten opsigte van nasionale uitsaairegte oor nasionale TV en Radio.
      3. ‘n Grondwet en Juridiese stelsel wat in ooreenstemming is met die beginsels van God se heilige wet.
      Ten mínste dit.

      Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s