TYD OM TE STAAN – SONDER VREES

Nebukadnesar

[Kunstenaarsvoorstelling van koning Nebukadnesar – koning van Babel]

As jy te veel glans-teologie in jou lewe gesluk het behoort amper alles in die Nuwe Suid-Afrika vir jou een, of twee te veel te wees. Glans-teologie is daardie boeke; preke; idees; DVD’s; musiek ensovoorts wat onvoorwaardelik aan die leser of luisteraar die omnibus-trilogie-pakket van Gesondheid-Geld-Geluk gereed hou, om met die strek van jou regter arm net te kom opeis:

“My lewe was so sleg en verskriklik. Ek was bankrot en gediagnoseer met ’n ongeneeslike siekte. Toe sê hulle vir my: ‘Sit net jou hand op die TV stel en die oordrag van jou wonderwerk sal oombliklik tot daar by jou in daardie kamer kom’.”

Die wat weet dat al het Jesus Christus simbolies ook die vloek op die aarde deur die doringkroon op sy kop by die kruisiging gedra, weet ook dat christene nog steeds in dorings gaan trap tot op die wederkoms. Hierdie christene is ’n bietjie beter gestaal teen die frustrasies, en gedurige teenstand en venyn wat ons land en wêreld vul.

Waar dit egter vir hierdie groep regtig begin moeilik word, is wanneer jy begin vermoed dat die haat en dwinglandy waarteen jy jou gedurig vasloop nie die gewone dorings op die plaaspad in die rigting van die huis met die rooi sinkdak is nie. Jy voel jy word reguit en baie spesifiek geteiken! Wat nou?

Ek wil hê jy moet terugdink aan drie jongmanne: Hananja; Misael; en Asarja – dit was hulle regte name. Mens sou kon sê dis hoe hulle genoem was voor die proses van naamsverandering in ’n land met ’n heidense owerheid ingetree het. Na die naamsveranderinge is hulle Sadrag; Mesag en Abednego genoem deur hulle base.

Mooi luister, nou.

Om geen ander gode voor die Here se aangesig te hê nie was nie die drie manne se sogenaamde “persoonlike oortuigings” nie. Om te gril en aan te hou gril vir afgodery, was vir hierdie drie vreesloses wat die enigste ware God wou aanbid, ononderhandelbaar! שְׁמַע, יִשְׂרָאֵל:  יְהוָה אֱלֹהֵינוּ, יְהוָה אֶחָד. – Sjma Jisrael, Jahwe Eloheino Jahwe egad! – “Hoor Israel, die Here onse God is ’n enige Here!” Brand my, stel my tereg, straf my, dis okei. Maar MOENIE van my as besnede godvresende verwag om voor ’n afgod – geel-en-glansend wat hy is, te buig nie! Want ek sal nie.

Let baie mooi op dat die beskuldiging teen die drie jongmanne nie net met hulle anti-afgods-houding  te make gehad het nie. Die beskuldiging word ook ingekleur met verwysing na hulle herkoms en hulle kultuur. Luister:

“Daarop het hulle met koning Nebukadnesar gespreek en gesê: Mag die koning vir ewig lewe! U, o koning, het ’n bevel gegee dat elke mens wat die geluid van die horing, fluit, siter, luit, harp, en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, moet neerval en die goue beeld aanbid; en dat hy wat nie neerval en die goue beeld aanbid nie, binne-in die brandende vuuroond gegooi moet word. Daar is Joodse manne wat u oor die bestuur van die provinsie Babel aangestel het, Sadrag, Mesag, en Abednego; hierdie manne het hulle, o koning, aan u nie gesteur nie; hulle dien u gode nie en die goue beeld wat u opgerig het, aanbid hulle nie.” Daniël 3 verse 9 tot 12.

Let op: “Daar is Joodse manne…” Hierdie onbuigbare rebelle wat nie met die volk of koning saamgestem het oor wie of wat aanbid moet word nie, word nie bloot as kriminele beskryf nie. Nee, hulle is “Joodse wetsoortreders”!

Luister mooi:     Mense wat die waarheid waarvoor jy as Christen staan haat, gaan dikwels ENIGE verskoning soek, doodgewoon om jou te ondermyn.

“Yes, that Afrikaner refuses to ….” of wat ook al.

Vra krag by God (jy bid te min), en STAAN vir dit wat reg is – reguit, en met oop oë.

Jesus Christus is die waarheid in elke taal en kultuur en etniese groepering op aarde. Hy verander nooit.  Bely daarom vreesloos sy naam, en bid ook dat as jy teenstand kry dat dit vir die regte redes sal wees. Vir die moedswilliges onder ons dalk so: As jy wil skoor soek laat dit dan as Christen wees. Bietjie sagter gestel: Moenie terugstaan vir dit wat helder en duidelik in God se Woord geopenbaar is nie – in jou huis; in julle kerk; in die dorp; in die stad; en in hierdie land wat aan die christene behoort.  

TYD OM TE STAAN – SONDER VREES!

Mag God drie-enig: Vader; Seun en Heilige Gees die enigste ware God, jou die krag daartoe gee.

“Want niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener of as een wat hom met die sake van ’n ander bemoei nie. Maar wanneer iemand as ’n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig.” I Petrus 4 verse 15 en 16


3 thoughts on “TYD OM TE STAAN – SONDER VREES

  1. Frikkie, ongelukkig gaan hierdie voorspoed godsdienstiges onder ons nog verder om mense wat swaarkry weens siekte of ander nood te veroordeel omdat God hulle sou straf vir een of ander groot sonde wat hulle sou gedoen het. Ons het vriende wat onder hierdie godsdienstige snobisme deurloop en sukkel om hulle gesigte in die openbaar te wys.

    Like

    1. Ja Gert, dis baie sleg en hartseer om hiervan te hoor. Lyk my by sulke mense het die stryd teen siekte, die stryd teen die sonde vervang. Met ander woorde HELING is nommer 1, en HEILIGMAKING 0. Stem jy saam dat so ‘n ingesteldheid pieperigheid in die kerk kan inbring? Bedoelende vrees vir pyn en dalk ook vervolging?

      Like

  2. Dankie vir hierdie een! Kragtig. Staan vreesloos, want die oorwinning is reeds behaal en die wat by ons is is meer as die wat teen ons is….
    Nie altyd maklik nie!

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s