GEEN EVANGELIE – GEEN BESKAWING

Griekse beskawing

[Die Partenon in Athene – internasionale simbool van die Griekse beskawing]

In my betrokkenheid by die tuisonderwys van my oudste dogter, wanneer ons na die geskiedenis van die wêreld gekyk het, was een van die heerlikste boeke om daarvoor te gebruik die 1975, Human & Rousseau, publikasie “Die verhaal van die mensdom”. Dit is kleurryk; dik; bondig; gee ’n goeie oorsig; EN dit is in Afrikaans. 

’n Woord wat nogal heel gereeld daarin gebruik word is die woord: “beskawing”. Die Sumeriese beskawing; Die Babiloniese beskawing; Die Griekse beskawing; Die Romeinse beskawing; ensovoorts. Maar ek moes keer-op-keer die volgende formule onder die dogter se aandag bring, naamlik: Evangelie = Beskawing. Anders om gestel, waar die Evangelie nie is nie, daar kan die beskawing ook nie bestaan nie. Ons maak maklik die fout om te dink dat as mense tegnologies gevorderd ander ver vooruit is, dat so ’n groepering mense die term beskaafd “waardig is”. Inteendeel, dalk is daar soveel definisies vir hierdie woord as wat daar standpunte, opinies en ideologieë in die wêreld is. Want wat deur die een groep mense ’n “geurige hamtoebroodjie” genoem word, is vir ’n ander groep weer die toppunt van barbaarsheid. Wat die woord barbaar betref – wat ons ook in Afrikaans gebruik, was dit die Grieke wat enige een wat nie hulle taal kon praat nie ’n barbaros genoem het.

“Wat sê hy?”

“Nee ek kan nie hoor nie. Iets van bar-bar-bar-bar-bar.” 

“Ja die barbaar! Uit watse gat het hy gekruip dat hy nie Homer; Plato; Aristoteles; en Alexander se taal kan praat nie.”

Dalk seker soos wat ons eie land se mense dikwels na die mense aan die anderkant van ons land se grensdraad as makwerekwere (‘n beledigende term) verwys.

“A reng motho o?” – Wat sê hierdie ou?

“Aowa, ga ke mo kwe. A re fela kwere kwere kwere…” – Nee, ek kan hom nie verstaan nie. Hy sê net kwere kwere kwere

Die Engelse term “civilisation” sal ook by hierdie bespreking betrek kon word. Oor wat dit beteken om ’n burger te wees van ’n sekere gemeenskap. Ander sou hierdie term dalk eerder wil terug herlei na die woord vir “stad” in Latyn, naamlik civitas. Die stad wat dalk die eerste toonbeeld van orde en reël-gefundeerde samewerking tussen mense sou vergestalt. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal – ons monument wat onlangs nog tot by baksteen R gevorder het, definieer beskawing so: 

1. Die gladmaak met ’n skaaf.

2. Veredeling, verfyning: Die beskawing v/d heidene deur die Christendom. ’n Man van beskawing.

3. ’n Toestand van beskaafdheid – in teenst. met barbaarsheid: Die Westerse beskawing. Op ’n hoë (lae) trap van beskawing staan.           

Die vraag bly natuurlik: Veredeling met wat as standaard? Verfyning met watse liniaal om dit mee te meet? Wat definieer die “toestand van beskaafdheid”? En wat sou die definisie van Barbaarsheid wees? As iemand nie my taal praat nie? Seker nie…

’n Ander, dalk belangriker vraag om te vra sou dalk wees: As ons dan nou weet wat ’n beskawing is, sou dit reg wees om daarna te smag en ons kragte in te span om dit te bereik – indien dit bereikbaar is? Of is dit iets waarvoor mens sit en wag, en dan gebeur dit gewoon eendag?

Geagte leser, om waarlik mens  te wees voor God, ja om jouself waarlik te kan ken, jou gawes te kan raaksien, en te weet wie God is, en hoe jy in hierdie wêreld inpas is dit absoluut, absoluut onontbeerlik om deur die Goeie Nuus wat deur die Heilige Gees in ons harte ingebrand word verlig te word. Geen Evangelie – Geen beskawing.

Ja, ja, talle en talle heidene het al verstommende uitvindings die lig laat sien op hierdie derde-van-die-son-af planeet van ons. As ons die Woord van God as ons standaard daar stel mag ons vra: Maak dit hierdie heidene daarom beskaafd? Antwoord: Nee. Ware veredeling, afronding en verfyning is slegs daar moontlik waar die vrug van die Heilige Gees in sondige mense se lewens begin gestalte vind. 

“Arm, arm, arm maar hulle was so gasvry, vriendelik en respekvol.”

  Gaan soek eerder onder sulke christene die saad van die beskawing, as by die mars-toe-sturende hoererend-aborterende ruimteprogram bestuurder van enige ander nasie onder die son.

Die punt?

Jy veg vir die behoud van dit wat jy “beskawing” noem in Suid-Afrika. En om op te staan vir die burgerregte van verontregtes is ongetwyfeld ’n edele en belangrike saak om aan te durf. Ek bedoel dit.

Maar vir die volmaakte regering van God se Stad hier op aarde om gestalte te vind, ja vir die koninkryk van God in al sy heerlikheid, vrede en hoop om hier sigbaar te word het God die uitdra van die Evangelie, die Goeie Nuus as spiespunt uitgekies. 

Hou op om te keer dat dinge erger word!  

Dra die Goeie Nuus van Vergifnis in die bloed van Jesus Christus uit in hierdie pragtige land van ons, onder alle barbare – wit en swart; blas en bruin. Dra dit uit aan onbeskaafde sondaars wat God en hulle naaste haat, en wat ’n verskriklike toekoms in die gesig staar, en wat totdat hulle daar uitkom ook hierdie wêreld, en mense rondom hulle verrinneweer en venynig vernietig. 

Daar IS hoop!

Vertrou die Here dat Hy ons gebede sal beantwoord: “…laat U koninkryk kom…”

Die wat geloof ontvang, ontvang ook nuwe harte, nuwe harte is gerig op die koning van die koninkryk – struikelend, maar tog in die rigting van die troon.

Mag die Here ons land en sy mense genadig wees.

Prys die HERE!
“In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. Want dit is goed en aangenaam voor God , ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.” I Timotheus 2 verse 1 tot 4.

“Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? Hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!” Romeine 10 verse 14 en 15.

“Toe het Josua Ai verbrand en daarvan ’n puinhoop gemaak vir ewig, ’n wildernis tot vandag toe.” Josua 8 vers 28

     


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s