VAN GEMEEN TOT GEMEENSKAP – Is Protestante en Rooms-Katolieke nou uiteindelik een?

(Portret van die groot reformator Martin Luther)

Ek is soms so bly oor die helder en openlike skandes en sondes van die groot reformatore uit die 16e eeu, want dit maak dit in die eerste plek onmoontlik om hulle in my hart blinker te vryf as wat hulle was. Sondaars gered uit genade alleen – simul iustus et peccator. Laat die eer vir wat deur hulle tot stand gekom het onaangeraak reguit na die hemel gekaats word. Johannes Calvyn en sy betrokkenheid by die uiteindelike terregstelling van die anti-trinitariese terroris-ketter van sy tyd – Michael Servetus, op die brandstapel, en Martin Luther met sy gif-spuwende skerper-as-lemme boek, wat gemik was teen die judaïserende Jode van sy tyd “Teen die Jode en hulle leuens”. In 2017 maak dit van Calvyn ’n moordenaar volgens sommige, en van Luther ’n anti-semiet! Dan’t ons nog nie eens gepraat oor “Calvyn se” predestinasieleer nie!
Sommige mense wat graag Calvyn se erfenis in ons tyd haat – ook in Suid-Afrika, is dikwels beïnvloed deur die Amerikaanse skrywer David Charles Haddon Hunt (Dave Hunt), wat ironies genoeg gedeeltelik vernoem is na die 19e eeuse “Calvinistiese Baptis” – Charles Haddon Spurgeon. 

In ons eie land (en eintlik nie meer nie want sy woon nou in Frankryk) was die skryfster Marita van der Vyver ook ’n gunsteling teenstander van enige iets wat sy as Calvinisties beskou. Ek onthou in een onderhoud jare gelede het sy veral enige “skuldgevoel” met die Calvinisme geassosieer. Iets wat sy graag probeer afsterwe. 

Ou Max du Preez het ook soms iets oor die Afrikaners se calvinistiese hardkoppigheid te sê – wanneer hy van hulle verskil.

Aan die anti-Lutherane se kant is dit veral chiliaste (mense wat Openbaring 20 se verwysing na ’n 1000 jaar letterlik opneem en daarom van oortuiging is dat Jesus eendag letterlik vir ’n duisend jaar voor die finale oordeelsdag sal regeer vanuit Jerusalem – Israel). Hierdie mense is gewoonlik – wat ek sou noem, so “Israel-beneweld”, dat enige  negatiewe opmerkings of sienings oor Jode vir hulle amper op laster neerkom.

Ander anti-Lutherane sal dalk meer van Roomse kant af kom.

As inleiding op die lewe van Martin Luther sou ek eerstens wou sê dat hierdie man in die geskiedenis van die heilige algemene christelike kerk, seker een van die interessantste mense nog was. Dit is nou met al sy foute en tekortkominge.  Hy het immers weer en weer in Latyn uitgebulder: SIMUL IUSTUS ET PECCATOR! Tussen hakies dit is juis hierdie leer wat die heilige algemene christlike kerk vandag nog van Rome skei. Hierdie woorde beteken: TEGELYKERTYD GEREGVERDIG EN SONDAAR! In groter detail uitgespel beteken dit: 

“Al is ek sleg, ja al is ek ’n sondaar, vergewe die Here my nogtans al my sonde kragtens die bloed van Jesus Christus wat vir my gevloei het op die kruis.” 

Hy verklaar dat ek vergewe is.

Hy vergewe ons nie omdat ons wedergebore is nie, maar omdat die bloed van Jesus Christus vir ons gestort is. Vergewe Hy dan alle mense? Nee, net daardie sondaars wat met ’n ware geloof die Here Jesus Christus omhels, word gered. En waar kry die sondaar dan geloof vandaan? Dit is die Heilige Gees wat dit in ons harte werk deur die verkondiging van die heilige evangelie. 

So, Luther was ’n sondaar vrygespreek deur die genade van God.

Dis dalk genoeg vir eers, net om weer terug te kom na Luther en Rome vandag. In hierdie jaar wat voorlê gaan jy weer en weer deur die-reformasie-is-verby-fanate verwys word na die volgende gebeurtenis:

Dit het plaasgevind in die stad Augsburg, op 31 Oktober 1999.

Wat het daar gebeur?

By hierdie plek en op hierdie dag is daar ’n sogenaamde “Gesamentlike Verklaring” tussen die “Lutheran World Federation” (LWF) en die Rooms Katolieke beweging onderteken in verband met die belangrike reformatoriese leer van regverdiging. Dit is onderteken om te kyk of Lutherane en Rooms-Katolieke darem nou na al die jare uiteindelik saamstem of nie. Talle en talle mense sê dat die uitkoms van dit alles net een ding helder en duidelik uitspel: EENHEID.

Daar is selfs ’n boekie gepubliseer oor hoe daar nou oor die verlede gedink moet word, getiteld: FROM CONFLICT TO COMMUNION. In Afrikaans dalk: VAN GEMEEN TOT GEMEENSKAP (!).

So ’n vragie of twee:

1. Indien Rome en Wittenberg (Luther se stad) nou een is, hoekom vier hulle dan nog nie die nagmaal saam nie?

2. Waarom verwerp alle belydende Lutherane wêreldwyd hierdie ooreenkoms? 

Die woord “belydend” verwys na Lutherane wat hulle belydenisskrifte sien as in ooreenstemmend met die Heilige Woord van God.

Met ander woorde: Moenie deur die propaganda mislei word nie.

En gaan doen bietjie jou eie navorsing oor SIMUL IUSTUS ET PECCATOR.

Wenk: Indien jy in hierdie jaar waarin die 500ste herdenking van die Protestantse Reformasie plaasvind graag meer oor Luther wil lees dan wil ek heel eerste die boek: Here I Stand – Martin Luther, deur Roland Bainton aan jou voorstel.

“Gedenk julle voorgangers wat die Woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.” Hebreërs 13 vers 7. 

 


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s