​EXTRA ECCLESIA NULLA SALUS – buite die kerk is daar geen redding nie

[’n Portret van die groot 16e eeuse kerkhervormer Johannes Calvyn]

Net so ’n kort lessie in Latyn voor ons aangaan:

Extra – Buite

Ecclesia – die kerk

Nulla – nul; zero; geen

Salus – redding

Wil graag stilstaan by hierdie leuse wat so gereeld onder die vroeë kerkvaders gebruik is maar ook nie in die tyd van die Protestantse reiniging van die kerk in die 16e eeu onder die katedraal se mat ingevee is nie. Een bewys hiervan is byvoorbeeld die Belgiese Belydenis wat ook genoem word die Nederlandse Geloofsbelydenis wat geskryf is deur Guido de Brés wat vroeër by Johannes Calvyn se teologiese akademie in Geneve studeer het. Daar lees ons by punt XXVIII (28) die volgende: “Ons glo – aangesien hierdie heilige vergadering ’n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie…” [Frans: Nous croyons, que puis que ceste saincte Assemblée et congregation est l’assemblée des sauvez, et qu’il n’y a point de salut hors icelle…; Latyn: …atque extra eam nulla sit salus…]

Die heilige algemene christelike kerk het dus deur die eeue heen geglo dat daar buite die kerk geen redding is. Moenie te gou skrik hiervoor nie, vra eerder die volgende belangrike vraag:

Waar lê die grense van die kerk? Wanneer is jy binne, en wanneer is jy buite?

Die antwoord op hierdie vrae – sonder om die sakramente te minag, is die Evangelie. Glo jy die suiwer Evangelie, of glo jy dit nie? Dit is streng gesproke die verskil tussen binne en buite. Die grenslyn is die Goeie Nuus van kindskap aan die God van die absoluut ganse heelal deur geloof in sy Seun Jesus Christus.

“Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” Johannes 14 vers 6.

“En saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” Handelinge 4 vers 12.

“Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.” I Johannes 5 vers 12.

“…in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie…” II Thessalonicense 1 verse 7b en 8.

Dis in die lig van hierdie helder en duidelike leer van die Woord van God dat uitlatings soos die volgende by die afgelope Woordfees by Stellenbosch uit monde van prominente kerklikes so ontstellend is.

Die gesprek waarna verwys word kan by die volgende adres na geluister word – gaan net af met die lys en laai dit weer, en weer tot jy daar uitkom: https://embed.iono.fm/prov/67# Dit was getiteld “FRITS GAUM: WAAR WAS GOD … EN IS DAAR OOIT ’N GOD? 6 MAR 15:30 . 2017: Skrywersfees.” Jean Oosthuizen was die gespreksleier. Die omtrent drie-kwart-uur gesprek is tussen die 80-jarige filosoof Willie Esterhuyse wat homself in die volgende terme beskryf: “Ek is ’n kristelike humanis. Waarskynlik nie ’n kristelike gelowige soos in die geykte sin van die Woord nie”, en Fritz Gaum – ’n voormalige redakteur van die Kerkbode. Naby aan die einde van die gesprek kom die vraag oor die uniekheid van die Here Jesus Christus op die tafel vir gesprek, waarop Gaum toe antwoord dat hy juis hierdie vraag aan emeritus aartsbiskop Desmond Tutu gevra het. Naamlik of Jesus die enigste weg tot God is? Hier is ’n aanhaling van Gaum se woorde:

“Is Jesus nou die enigste pad na God toe? En toe het hy vir my ’n goeie antwoord gegee. Hy’s ’n unieke pad na God toe. En ek, ek dink dis ’n baie goeie antwoord. Ek sal, dis die pad wat ek glo in wie ek glo die persoon in wie ek glo en dit is die pad wat ek dink ’n baie goeie pad is. Dis die pad wat God moeite gedoen het om oop te maak. Hy’t ’n kruis geplant in daai pad. Ek sal nooit sê dit is die enigste pad nie. Want ek glo werklikwaar dat God ook op ander maniere met ander mense te werk gaan, om ’n oordeel oor ander mense uit te spreek dit betaam ons nie. Maar dat ons wel moet sê dit is ’n wonderlike pad hierdie wat vir ons vertel van Jesus Christus … Hierdie is ’n unieke pad die pad van Christus.”

Gaum vertel dan hoe die wat probeer het om vir Korkie daardie tyd uit Jemen te red Moslems was, en dat dit nooit vergeet moet word nie.

Gaum noem Jesus dan weer “…die unieke openbaring van God, wat glad nie sê dat Islam nie ook ’n unieke openbaring kan wees nie. Uniek is enig, besonders, spesiaal. So in daardie sin is Jesus Christus se pad ’n unieke pad vir my.”

As dit  is hoe kerklike leiding praat, en die Woord teenoor die filosofie verdedig, mag die Here die skapies genadig wees!

EXTRA ECCLESIA NULLA SALUS!


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s