JULLE KANSEL – ’N TORING VAN TWYFEL?

Daar word vertel dat die dosent in Ou Testament by UNISA Ferdinand Deist jare gelede gepreek het in ’n gemeente waar die kanselkleed soos in soveel ander kerkgeboue die volgende woorde op gehad het: “SO SPREEK DIE Here HERE.” Met sy bestyging teen die trappies op voor in die middel, het hy uiteindelik vooroor die deel waar mens jou Bybel neersit gebuk en die kleed opgelig en soos ’n boekrol toe terug gerol nader aan homself. Die woorde op die kanselkleed, ja die kanselkleed self was nie meer sigbaar nie. Nou kon die professor met sy preek begin…
Dalk is daar twee groepe wat op hierdie deistiaans-liturgiese-gebaar prominent na vore sou kom:

1. NEGATIEF: 
“MY liewe magtag man! Wie de swernoot dink hy is hy om so iets te doen? Ek sê jou, dis al daai liberale professore vir wie ons fakulteite bietjie te eng geraak het wat uiteindelik daar by UNISA opeindig…”

2. POSITIEF: 
“Nee, dis reg. Nou weet ons ten minste dat ons nie eens sy preek met ’n knippie sout hoef te vat nie, want dis nie ’n poging om dit wat God en sy Woord sê deur te gee nie, dis maar net Deist se filosofie en opinies. Ja, die man is nogal slim, maar te slim vir gelowiges wat nog eerbied en respek vir God se Woord het. Dis verseker!”

Professor Deist is egter nou al ’n hele ruk al oorlede en die postmoderne onsekerheid tref gelowiges van alle kante af. ‘k Het self ’n jaar of wat gelede met ’n lidmaat van ’n gemeente in die omgewing van die botaniese tuine in Pretoria gesels. Hy  vertel toe oor die foon van ’n onlangse preek waarna hy geluister het wat so anders as sy eie gemeente se prediking was. Hy sê:

“Ek kon dit nie glo nie! Hier preek die man en haal vir Paulus, en vir Johannes en vir Jakobus aan! Ek bedoel hy haal die Bybel self aan in sy prediking! Nie hierdie filosoof, of daardie wysgeer, of hierdie en daardie standpunt nie, maar God se Woord self! Ek kon dit nie glo nie. Dit was absoluut fantasties!”

Ek kom toe agter dat hy vir te lank nou al die onsekere filosofieë van standpuntvormers vanaf die kansel moes aanhoor, maar gesmag het na dit wat die HERE self sê!

Wanneer die kansel saam met die katkisante twyfel is dit doodgewoon die blindes wat die blindes lei. 

Gebed: “O Here, herstel tog die helder en suiwere prediking van U Woord in ons tyd. Wys ons ons sonde. Wys ons die Redder. Wys ons die weg van dankbaarheid. Skenk o Here geroepe mans wat biddend buig voor die Hebreeuse en Griekse teks van die Bybel, in nederigheid voor U die heilige almagtige drie-enige God. Tot eer van U Naam, ter vertroosting van U kerk, en tot uitbreiding van U koninkryk, amen.”

“…Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle van glo…” I Thessalonicense 2 vers 13.

“As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God…” I Petrus 4 vers 11.


2 thoughts on “JULLE KANSEL – ’N TORING VAN TWYFEL?

  1. Goeie artikel. Vrywillige Kategismus prediking is veronderstel om te verseker dat die volle Evangelie uit die hele Skrif oor ‘n jaar gepreek word. Vrystof prediking rus steeds te veel op die predikant se eie voorkeure. Nietemin is mens dankbaar as vrystof preke Skrif getrou is.

    Like

    1. “Vrystof prediking rus steeds te veel op die predikant se voorkeure.” Stem 100% met jou saam Gert. Prediking dwarsdeur ‘n spesifieke boek in die Bybel is die ideaal. Maar soms voel ‘n gemeente en kerkraad daaroor soos die volk later oor die manna in die woestyn. Dis nogal ‘n frustrasie, want daar’s soveel voordele aan soos groter dieptegang in die prediking. Die TV het mense súlke lui luisteraars gemaak.

      Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s