BEGEER JY VREDE? BEREI VOOR VIR OORLOG! Teen die wat passiewer as passievolle pasifiste is

[’n Ridder, die dood, en die duiwel – ’n Uitbeelding van die wapenrusting van die Christen soldaat uitgebeeld deur die wêreldberoemde skilder Albrecht Durer, 1471 – 1528]

Die  Latynse uitdrukking si vis pacem para bellum wat ook vandag se opskrif is, val ontsettend vreemd op heelwat 21ste eeuse ore. Ek meen, ons woon vandag in ’n wêreld waarin pa’s aangemoedig word om nie vir hulle seuns plastiek (!) gewere te koop om die “terries” mee te skiet nie. Net-nou gebruik hulle dit regtig eendag om hulle gesinne mee te beskerm! Gewere. En om in so ’n geval te beskerm beteken om te beskerm van iemand. En om jou gesin van iemand te beskerm met ’n vuurwapen, mag die trek van ’n sneller impliseer. En die trek van ’n sneller – ter wille van beskerming, impliseer heel waarskynlik ’n gelaaide magasyn met patrone binne in. En patrone wat afgevuur word ter beskerming van weerloses, impliseer heel moontlik die stort van bloed – na die nodige waarskuwingskote natuurlik. En die storting van bloed … wel ja … is seker nie ideaal nie … 

Liewe genugtig! Hoe die liberalisme en onskriftuurlike pasifisme van die Anabaptisme ons wêreld nie al deurdrenk nie! Nog net ’n paar milliliters en ek’s seker ons gaan ghloegh-ghloegh-ghloegh verdrink in hierdie tenk! Maar o vir ’n man of twee wat nie vir sak nie maar vir ’n saak sy rug sal reguit maak! Natuurlik, die saak van die HERE. Indien jy wonder, hierdie skrywe vandag fokus spesifiek op die belangrikheid daarvan om nie te vlug vir konfrontasie in kerk of koninkryk nie, maar om juis te beweeg in die rigting van waar jy die wolwe hoor skrou! Wolwebloed op grasgroen gras was nog nooit sleg vir ’n vriendelike tuin se bemesting nie. Hoe ’n geslag pa’s wat hulle land en gesinne teen die dreigende kommunisme in die bosoorlog verdedig het seuns  kon genereer wat passiewer as passievolle pasifiste is, moet seker een van die groot raaisels van ons tyd wees. Punt bly dat die kerk van die Here Jesus Christus nooit maar nooit oorlogloos in hierdie wêreld sal wees nie. Dis seker dierbaar dat jy graag die beste en mooiste van die vyande van die kerk van Jesus Christus wil dink en glo. Feit bly egter dat haters van die heilige algemene christelike kerk – dierbaar of nie, die Koning van julle koninkryk haat, sy stad verag en wil vernietig, en altyd maar altyd smag na wêreld oorheersing. Die sentrale leuse in daardie swaardgeveg film “The Highlander” van ’n hele paar jaar gelede, geld ook hier: “There can be only one.” Sonder enige twyfel is dit ook die leuse van die huidige geveg tussen die sakrale en die Satan; tussen die heilige en die honende; tussen die dag en die donker… 

Waarom voel jy heeltyd asof jy moet kies? 

“Oe nee, ek’s mos nie iemand vir konflik nie. Ek fokus eerder op die positiewe…”

“Mooi, maar leer die Bybel dan nie dis positief en nodig om die volle wapenrusting van God op te neem nie?”

“Wel ja, maar dis tog ’n geestelike geveg is ‘t nie?”

“Korrek! ‘Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie…’ Maar onthou, die swaard is die Woord, en hy word juis gebruik wanneer hy op jou lippe is. En waarom is hy nie op jou lippe in julle gemeente nie? Is ‘it waar wat ek hoor van julle gemeente se standpunt oor …?”

Smag jy na vrede in julle gemeente oor dit of dat? Berei jouself voor vir oorlog! Hou op om pous of predikant te vrees, en bewe voor die aanvoerder van jou weermag. Sak laag, mik mooi, en trek die sneller. God sê self dat Hy die bangbroeke hel toe stuur. 

“Maar wat die vreesagtiges [Grieks: tois de deilois] aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.” Openbaring 21 vers 8.

“Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid [Grieks: pneuma deilias] gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” II Timotheus 1 vers 7.

“Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.” Efesiërs 6 vers 10 en 11.

“…want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus…” II Korinthiërs 10 verse 4 en 5.

“Maar dit het jy, dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat ek ook haat.” Openbaring 2 vers 6.

  


One thought on “BEGEER JY VREDE? BEREI VOOR VIR OORLOG! Teen die wat passiewer as passievolle pasifiste is

  1. 🙂 Frikkie….
    Ek het nog nooit wolwebloed op my grasperk oorweeg nie….!

    Ja, ja en duisend maal ja. Om te veg vir dit wat Waarheid en Reg is. Om op te staan vir dit wat die Skrif ons duidelik leer.

    Dit beteken dat jy “anders” is, dit beteken dat jy uitstaan, teen die stroom moet swem (en swem sal jy swem, nie ‘n oomblik om te dryf nie) en uiteindelik ook moontlik onder die swaard sal sterf…

    Tog word ons, juis vanuit christelike oorde, geroskam. Want hoe durf jy “oordeel”?
    Hoe durf ek swyg?
    Hoe kan ek nie dit wat sienderoë verkeerd is, aanspreek nie? Ja, ek is my broer se hoeder. Ja, ek moet soos die wagter op die muur die ure aankondig. Die foute uitwys – of jy, broer of suster daarvan hou of nie.

    Ja, ek is ook ‘n begenadigde sondaar. Ja, ek struikel nog dikwels, net soos Paulus: Die goeie wat ek wil dit doen ek nie, maar die kwade wat ek nie wil nie…. Maar daarom moet jy my “oordeel”, my uitwys en oplig.

    Dankie Frikkie – ek is ‘n vegter – in hierdie geval!

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s