TAKTVOLLE LIEFDELOSE DOKTERS…

(Dokter Christiaan Barnard was seker een van Suid-Afrika se bekendste chirurge van alle tye)

Normale hospitale werk breedweg op die volgende beginsel as dit oor pasiënte en siektes gaan:

Pasiënt – goed

Siekte – sleg

Opdrag: Skei wat sleg is van wat goed is.

Selfs al was die pasiënt ’n krimineel, moet sy lewe gered word – al is hy onder polisie bewaking. Natuurlik word daar nie altyd geslaag in hierdie proses nie, soos wanneer ’n ongeneeslike siekte net vir die pasiënt dalk meer draagbaar gemaak moet word. Ander scenario’s sal ook nie altyd presies hierby inpas nie soos met ’n fraktuur, wanneer niks werklik weg geneem word nie maar beendere eerder geheg word en dan moet genees…

Maar, feit bly – pasiënt goed, siekte sleg is die basiese uitgangspunt van die geneeskunde want die doel is genesing van mense. Jaag die siekte weg dat die pasiënt kan leef.

Ook in die christelike wêreld is dit vir eeue al aaneen gepreek:

Wees lief vir die sondaar.

Haat die sonde.

Bid dat as dit God se wil is dat die sondaar vergifnis mag ontvang – regverdiging, en die proses van skeiding tussen sondaar en sonde mag begin – heiligmaking.

Die probleem is egter dat daar in die Westerse wêreld ’n toenemende tendens is om nie net vir die sondaar om te gee nie, maar ook om meer en meer in sy innerlike sonde te begin belangstel … tipe van so effens ’n begrip te begin ontwikkel vir sy sondige gevoelens, uitgangspunte en begeertes. Natuurlik! Verkragting is verkeerd, maar hoekom het hy dit gedoen? Dalk het hy self jare gelede ’n dominerende pa gehad en was hy geboelie op laerskool… Voor ons ons kan kry, lê ons omgee en deernis nie meer net by die sondaar nie, maar ook op ’n manier by sy ingesteldheid en geneigdhede. Of ons sien dit oor, asof dit nie regtig meer bestaan nie. Wie’s ek om te oordeel? Is die refrein van die liedjie. 

Dra hierdie scenario bietjie oor op ’n hospitaal, en die absurditeit van die hele gemors troon bo die wolke uit soos ’n liggeel pitseer die grote van Kilimanjaro:

“Ek wil nou nie wetties klink nie Mnr. Van Der Merwe, maar volgens my is u siekte dodelik.”

“Ekskuus, hoe bedoel u volgens u is dit dodelik? Bedoel u ek moet vir ’n tweede opinie gaan?”

“Nee, nee. Die feite is duidelik en helder op die tafel, maar ek bedoel net dat ek nie u gevoelens wil seer maak nie…”

“Nie my gevoelens wil seermaak nie?! U’t dit reeds gedoen deur so onseker en deurmekaar te praat, weet u dit dokter?”

“Ekskuus ja, ek’s so jammer. Moenie dat dit wat vir ander na die werklikheid voel, u enigsins laat voel dit moet ook so vir u wees nie. Dalk sou dit hier kan wees soos oor die ouderdom – jy’s so oud soos wat jy voel, of dalk jy’s so siek soos wat jy voel! Wat dink u van so iets?”

“Nou voel ek darem weer bietjie beter… Maar is dit waar dokter? U’t my nou-net nogal amper ontstel… Is ek gesond?”

“Naaag, ek dink nie mens moet ’n wit of swart bril by hierdie tipe van dinge opsit nie. Dis tipies van ons Westerse manier van dink: … of … of …, in plaas van: … en … en.”

“Dankie dokter… Wat noem mens dit nou weer?”

“O, mens noem dit ’n melanoom, en daar is vyf metastasis in u liggaam.”

“Ek sal probeer onthou … baie dankie dokter.”

“Heeltemal goed so. Rustige aand Mnr. Van Der Merwe…”

DIE LES: As jy nog praat van “red die pasiënt en sny die kanker uit” behoort jy nog meer te kan sê “gee om vir die sondaar en noem sy sonde reguit op die naam.” Liefde vir ’n sondaar beteken dat jy juis  nie vir hom gaan lieg oor sy sonde nie. Dink aan hoe die Here Jesus Christus met die Fariseërs gepraat het. Maar vertel hom ook die goeie nuus, dat die Chirurg van sonde-deurtrekte mense die beste in die wêreld is, maar nie voor jy aan hom sy diagnose gegee het nie.

“Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie.” Levitikus 19 vers 17.

“Bestraf die wat sondig, in die teenwoordigheid van almal, sodat ook die ander kan vrees.” I Timotheus 5 vers 20.

“Maar Saulus, dit is Paulus, vervul met die Heilige Gees, het die oë op hom gehou en gesê: Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?” Handelinge 13 verse 9 en 10


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s