HEUNING STERKER AS GIF

(‘n Wit sendeling in sy safariepak met kortbroek verduidelik hier onder ‘n boom die Goeie Nuus aan hierdie kinders van die Caprivi-strook)

Ek het nou al sedert Junie laasjaar die geleentheid om elke Vrydag vir die derde grootste Zoeloe koerant in ons land ’n stuk uit die Bybel te skryf en te verduidelik. Toe die huidige redakteur van die koerant my uitgenooi het om vir hulle te skryf het hy my taak op die volgende manier beskryf: “Mfundisi, verduidelik asseblief vir ons die volgende: Wat is Christenskap?” 

Loodgieters wil krane insit. 

Skrynwerkers wil hout saag. 

En predikers wil preek en verduidelik. 

So vir my is dit ’n absolute voorreg om as ambassadeur van die koning van die konings, Hom by hierdie koerant te verteenwoordig en te poog om Hom daar te verheerlik. Die koerant self het nie ’n christelike uitgangspunt nie, en daarom is dit vir my des te meer ’n voorreg om tussen skrywers, joernaliste en ander wat oor ’n wye verskeidenheid van standpunte en vertrekpunte skryf, die lig van die Here Jesus Christus se Evangelie te laat skyn. Ons is in die stuk wat ek vir die koerant skrywe, al reeds deur die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Tien Gebooie, en ek is tans besig om die inhoud van die Onse Vader gebed aan die lesers te verduidelik. Wat my egter van einde laasjaar af ontstel het, is die stukke van die skrywer met wie ek die bladsy deel. As die bladsy ’n dubbeldekker bed is, dan is hy bo en ek is onder. In gewone Afrikaans: Die man is ’n absolute antichris – die fyner detail is vir nou nie so belangrik nie. Sy rubriek is getiteld: Ek is ’n Afrikaan…

In elk geval, ek wil effens meer vertel oor wat laas Vrydag, 24 Maart gebeur het. Ek skryf gewoonlik my rubriek of artikel die Vrydag voor dit gepubliseer word. O ja, ek’t vergeet om te sê dat die koerant op hierdie stadium ’n weeklikse koerant is, wat net elke Vrydag aangebied word vir verkope. So, ek skryf my artikel gewoonlik die week voor dit gepubliseer word, en dis belangrik vir wat ek wil vertel. Ek het dus glad nie geweet wat my konkurent en christenskap-hatende medeskrywer – bo my, sou skryf nie.

Hier’s hoe dit toe uitgedraai het:

In sy artikel getiteld: “Kolonialisme het by die wond van godsdiens en beskawing ingekom” begin hy toe van ’n kant af die motiewe van christen sendelinge van ’n kant af stereotipeer deur te sê dat hulle eintlike motief was om “beskawing” na Afrika te bring. Hoewel hy erken dat hulle ook goeie dinge gebring het, het die dinge wat met hulle geloof gekom het verskriklike skade aangerig: 1. Soos om poligamie te veroordeel 2. Dat geen lid van die kerk na ’n troue mag gaan en daar bier drink nie 3. En dat geen lid van die kerk vleis wat geoffer is aan die voorvadergeeste mag geëet nie. My doel is nie om hierdie punte nou te antwoord nie. Hy haal dan ’n sendeling aan met die van Wilkinson wat sy frustrasie uitspreek oor hoe moeilik dit is om hierdie mense “beskaafd” te kry. Dan skryf hy: “Daar het jy dit! Alles wat ons ons maak , ja die manier waarop ons deur die Skepper gemaak is, is in die oë van die witman (Zoeloe: umlungu) iets slegs. Dit beteken dat die witman hier gekom het nie om geloof te bring nie, maar om ons te verander sodat ons vlermuise sal word.” Tussen hakies die vlermuis word dikwels in die Zoeloe taal gebruik om te verwys na iets of iemand wat halfgebak is – nie dit nie, en ook nie dat nie. Vlermuis – nie ’n voël nie, en ook nie ’n muis nie. Nie welkom by die voëls nie, en ook ’n buitestaander by die muise.

Maar die skrywer is dan bly dat nie almal hulle kultuur verlaat nie: “Maar dit is nie alle mense van kleur wat hulle kultuur verwerp weens die niksseggende leer van die wit predikante nie. Daar is baie volkere wat geweier het, en ’n stryd gevoer het en geweier het om hierdie gif van die predikante te eet.” Hy het dit dan teen die gebruik dat dit beter is om ’n Engelse naam te neem en om mekaar dan met Engelse name aan te spreek. As jy nie ’n Engelse naam het nie word daar op jou neergekyk, en word jy ’n ware heiden genoem. Hy het dit ook teen die gebruiklike twee troue seremonies wat gewoonlik plaasvind: Die een wat in die kerk gehou word, en dan die een waar die bruid en bruidegom en ook al die gaste en mense tradisionele klere aantrek, dans, sing en jolig verkeer…

Hy spreek dan sy onsekerheid uit oor hoe lank sy mense sal kan aanhou om so ’n dubbelslagtige lewe te leef waarin hulle slegs gedeeltelik vry is omdat dit nie hulle denke insluit nie. Hy beskuldig die wit predikers ook daarvan dat dit hulle is wat die weg voorberei het vir die kapitalisme (wat in Zoeloe met ’n woord vertaal word wat daarop dui dat jy net jou eie belange soek), “want vandag dra ons – mense van kleur, moderne klere wat in die Weste vervaardig word.” Die argument is dan dat indien die sendelinge nie gepreek het dat ook jou kleredrag moet verander nie, sou hulle nie vandag hulle klere hier kon verkoop nie, “want ons sou ons eie soort klere aangetrek het.” So het hulle die pad oopgemaak vir hulle kapitaliste, dat hulle hier sou kon begin besigheid doen.

Nou. 

Die volgende aanhaling in sy stuk is baie belangrik:

“Laba bantu bayasizonda [Hierdie mense haat ons], bayasinyanya kodwa abeve beyithanda imali yethu [hulle gril vir ons maar hulle het ons geld meer lief]. Siyabawashela [ons was vir hulle], sigeze izingane zabo [ons bad hulle kinders], sibaphekele [ons kook vir hulle], sibendlulele imibhede yabo [ons maak hulle beddens op], siwashe siphinde si-ayine izingubo zabo kanye namashidi ombhede [ons was en stryk hulle klere en die lakens vir hulle bedde], sibenzela konke okuhle [ons doen soveel goeie dinge vir hulle], kodwa uncamela ukuthanda inja yakhe kunawe wena woHlanga [maar hy verkies om sy hond liewer te hê as vir jou o man van kleur]. Umbuzo ulokhu ukhona, wokuthi kanti uhlobo luni lwempucuko lolu ababelulethe kithi? [Die vraag bly steeds, naamlik watse soort van beskawing is dit dan wat hulle vir ons gebring het?]”

Wat so bietjie simpel aan so ’n situasie is, is dat my ( …  – dink aan kleur) gesig net so onder sy rubriek in al sy fotoryke glorie (?) daar skitter. Maar dis okei, dit was mos nie my besluit nie – ek bedoel my velkleur. Solank die Evangelie en boodskap wat ek skryf en verkondig soos die slagspies net die isikhonkosi – die plek net agter die nek van die bees tref, is ek rustig.

Dis toe hoe wonderlik die Here se hand die stuk wat ek presies vir daardie selfde dag geskryf het soos die sagste en mooiste handskoen die boonste boodskap van verdagmaking en agterdog met liefdevolle fermheid aan die strot kon gryp.

My stuk het presies op daardie dag gegaan oor die deel in die Onse Vader gebed wat sê: “…En vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe…” 

‘n Uittreksel:

“Hier is dit nodig om te praat oor die verhouding tussen die verskillende bevolkingsgroepe in ons land. In die geskiedenis van ons land was dit God se wil dat verskillende volkere hier sou bymekaar kom. Daar het slegte dinge gebeur, en daar het goeie dinge tussen hierdie volkere gebeur. As ons wil hê dat die Here (Die Zoeloe woord is Inkosi) van alle here – Jesus Christus, ons moet seën (isiXhosa: sikelela) soos ons in die nasionale lied sing, sal ons ook moet begin om mekaar se skulde te vergewe, en begin om mekaar te seën. Dan mag ons deur die genade van God vra dat ons ook geseën mag word ter wille van Jesus Christus. Maar indien ons dit nie doen nie, dan sal ons skulde ook nooit deur God vergewe word nie.” 

“Indien jy vra dat God jou skulde sal vergewe maar jy vergewe nie die skulde van ander nie, dan is jy ’n huigelaar. Jy wil hê dat jou Skepper jou moet seën, maar jy vervloek jou naaste. Jy wil hê dat die HERE aan jou die ewige lewe sal skenk, maar jou begeerte is dat jou naaste sal hel toe gaan. Jy sê: ‘Jesus Christus het vir my gesterf, maar Hy’t nie vir daardie vyand van my gesterf nie.’ Jy wil hê dat God jou vader sal wees, maar jy wil hê dat Hy ’n regter vir jou naaste sal wees. Jy wil hê dat die Almagtige aan jou lewe sal skenk, maar dat Hy die met wie jy nie oor die weg kom sal vernietig. Jesus sê dat as dit so is in jou lewe, gaan God glad nie jou sondes vergewe nie, omdat jy ’n huigelaar is. Jy het nie jou naaste lief soos jouself nie. Laat ons onsself voor God verneder en ons nie bo ander verhef nie. Ons het almal die vergifnis van God nodig.”

Toe ek eers die ander artikel en toe die een wat ek geskryf het lees, het ek eers stil geword, en toe die Here net gedank en gedank. Dit was immers Hy  wat dit so gereël het dat daar nie net gif op die 24ste Maart op daardie bladsy sou wees nie, maar ook die heuning van die vergifnis wat God skenk aan alle sondaars – wit en swart, deur die trane, bloed en uitroepe van verlatendheid van ons ewige redder en verlosser die Here Jesus Christus. Gesterf en opgestaan vir ons vergifnis en regverdiging – Haleluja!

Dank Hom asseblief saam met my.

“Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” Matthéüs 6 verse 14 en 15.

“En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie…” Lukas 23 vers 34a.

PS. Die foto wat ek vir vandag se stuk gekies het, is soortegelyk aan die een wat die ander skrywer by sy stuk in die koerant geplaas het. ‘n Wit man wat aan “mense van kleur” die Goeie Nuus (die godsdiens van die Weste, volgens die ander skrywer) verduidelik.


2 thoughts on “HEUNING STERKER AS GIF

  1. Dankie Frikkie vir ‘n besonderse mooi boodskap. Ek dank ook God dat Hy dit so beskik het dat die Goeie Boodskap teenoor die giftige boodskap op een bladsy geplaas is. Ek dink ook dat ons mooi moet dink oor hoe ander mense ons sien. Bring ons hulle nader na God deur ons alledaagse optrede, of stoot ons hulle af?

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s