HOE SLEGTER HOE BETER

[Portret van Lenin – die leier van die 1917 Bolsjewistiese rewolusie in Rusland]

Die Kommunistiese rewolusionêr Vladimir Ilich Lenin het ’n gesegde gehad, so sê hulle: “Chem khuzhe, tem luche” – hoe slegter hoe beter. Hoe slegter dinge gegaan het onder Tsar Nicholaas II, hoe beter was die Marxiste se kans om hulle ganse-samelewings-omwenteling (rewolusie) uiteindelik in werking te stel.

Maar voor ons verder gaan, net so ’n paar vrae aan jou:

Het jy rêrig gedink dat ’n land wat ’n samelewing probeer bou met die mens as sy god, enigsins beter sou uitdraai as hierdie geklengel en ge-tonk-tonk teen die rotsagtige stylte af?

Het jy rêrig gedink dat ’n rugby wêreldbeker oorwinning, ’n vriendelike ou man, en ’n helder multi-kleur vlag ’n hoopvolle toekoms vir die christene van hierdie land sou verseker? 

“Pappa, van my vriende by die skool sê mens moet eerder vir Andries Treurnicht  se party stem. Kyk net wat het met Rhodesië gebeur.”

“Nee, my seun moenie bekommerd wees nie. Suid-Afrika sal nooit die pad van Rhodesië gaan nie. Ons infrastruktuur is te sterk…”

Pragtig nê?

Toe’t ons agter gekom dat infrastruktuur deur mense in stand gehou word, en in stand gehou behoort te word.

Hoe moet dit gaan in ’n land waar die president met sy een hand op die Bybel ingesweer word, terwyl hy trou sweer aan ’n dokument wat die Bybel weerspreek? 

Die onlangse gebeure in Suid-Afrika is in der daad ontstellend. Maar onthou dat indien die gebede van soveel kinders van die Here vir Suid-Afrika verhoor gaan word, dat die oorgang van ’n mens-gesentreerde samelewing na ’n God-gesentreerde een, nie so maklik sonder meteoriese stampe of planetariese stote sal gebeur nie.   

Nommer een sal moet wees dat die mense van Suid-Afrika sal moet erken en moet insien dat om ’n samelewing te wees tot God se eer, vir ons as mense ’n onmoontlikheid is. Presies die teenoorgestelde van wat in ons koppe in gepreek, gesing en gejuig is in 1994. Onthou jy nog hoe ons dit ingeasem het: 

“Ons kan dit doen!”  

“Wat ’n wonderlike grondwet!”

“Versoening met my medemens!”

Maar was daar versoening met God?

Het ons Hom gevra hoe ons land vorentoe moet beweeg?

En as die Here hierdie begrip en insig geskenk het om te besef dat ons dit nie in ons het om ’n land tot sy eer te wees nie, moet ons ons arrogansie en hoogmoed teenoor Hom bely, naamlik dat ons gedink het ons kan uit eie krag en uit eie insig ’n samelewing tot sy eer wees.

“Was ons Here in die bloed van die Here Jesus Christus, en wys vir ons die pad vorentoe aan.”

Hoe slegter hoe beter, want dit is die Here wat besig is om hierdie land te antwoord. God is besig om hierdie land se versoek te antwoord: “Nkosi sikelel’ iAfrika…” – Here seën Afrika. En God se antwoord – as ons ore oop genoeg is, is nee. 

En jy wat ook onlangs met daardie Whatsapp boodskap begin wonder het of jy Nkosi sikelel’ iAfrika mag sing, het jy gedink dat “…die erwe van ons vadere…” wat vir ons kinders erwe moet bly slegs daardie erwe is met hekkies aan die einde van die groen gras, en nie ook die BELYDENIS van jou vadere nie? Daardie belydenis van jou ou-ou-oupas wat doer in Europa nog op brandstapel en aan galg onwrikbaar die tirannie van antichris en huigelaar met oop monde en pratende tonge deurstaan het… Ken jy dit nog?

Niemand wens vir Suid-Afrika om in onherroeplike anargie te verval nie. Maar onthou dat menige pottebakker die klei eers fynstamp en frommel voor hy met sy kunswerk begin…  

Mag die stem van die kerk helder en duidelik wees.  

“En toe die koning die woorde van die wetboek hoor, het hy sy klere geskeur…” II Konings 22 vers 11.

“Ook het Josia die dodebesweerders en die waarsêers en die huisgode en die drekgode en al die verfoeisels wat in die land van Juda en in Jerusalem te sien was, uitgeroei, om die woorde van die wet te bevestig wat geskrywe is in die boek wat die priester Hilkia in die huis van die HERE gekry het.” II Konings 23 vers 24.

“…Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde!…” Openbaring 1 verse 4b-5a.

“Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie…” Psalm 2 vers 12a.

“Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” I Korinthiërs 11 vers 31.

“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” I Johannes 1 vers 9.


2 thoughts on “HOE SLEGTER HOE BETER

  1. Watter troos bring hierdie skrywe vir ‘n gelowige? Skrywer ontken nie die afdraande glypad waarop Suid-Afrika is nie, nê? Hy sê ons moet eintlik daaroor bly wees, want ” hoe slegter, hoe beter” en impliseer dat die groot Pottebakker die klei eers fyn maal om daarmee ‘n beter beeld te maak. Verstaan ek reg?
    Die volgende statistieke kom uit die geledere van die Gereformeerde Kerk.Binne dertig jaar vorentoe, rondom 2050 sal die Gereformeerde Kerk uit minder as 40000 lidmate bestaan, slegs ‘n paar groot gemeentes gaan oorbly.
    Die volgende statistiek haal ek aan uit Sondag se Rapport:” Wit bevolking ouer as 60 leef nog gemaklik”( lees gerus die hele artikel)
    Ek haal aan: Pali Lehohla, statistikus- generaal, noem in sy verslag dat die wit bevolking ” skrikwekkend” verouder en kenners voorspel oor 60 jaar sal net ‘n handvol wit mense in die land sal oorbly” Dus net 3 % van die bevolking.
    Prof. Flip Smit, demograaf sê 24000 wit mense verlaat jaarliks die land. Nou vra ek weer:
    In die lig van bogenoemde watter troos bied die artikel vir my , en veral my nageslag?
    Met watter sekerheid kan skrywer voorspel dat dit ” beter” sal gaan? Behalwe natuurlik die troos dat daar vir my ” ‘n ewige lewe” beloof word?
    Hannetjie Viljoen
    Pretoria

    Like

    1. Beste Hannetjie, lees tog ook al die Skrifgedeeltes aan die einde van my skrywe. Watter ander troos het ‘n gelowige as om te weet dat as ons ons sondes bely dat Hy getrou en regverdig is om dit te vergewe? Maar is dit as burgers van ons land nou ‘n tyd om na tróós te soek? Is dit nie júís ‘n tyd om ons voor God te verootmoedig en ons arrogansie en hoogmoed te bely nie? Here seën Afrika, maar ons dogters vermoor die kleintjies in klinieke. Here seën ons gesinne, maar dis ‘n rég van ‘n sodomiet om met ‘n ander een te trou. Morena boloka sechaba saheso – Here behoed ons land, maar by ons regeer die méns en sý beginsels. Sal Hy só ‘n land behoed? Ek’s seker u bid ook vir u nageslag soos u voorouers vir u gebid het. U moet ook vertróú op die beloftes van Hom tot wie u bid. Vriendelike groete Frikkie Mulder

      Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s