“EMMA, HY’T OPGEDAAG. HY’S HIER!”

(Die kleinste wurmpie voed Hy, sorg vir die groot heelal)

So ’n paar weke gelede het ek ’n oproep ontvang van ’n Gereformeerde predikant wat van Amerika af kom – die gesprek was in suiwer Afrikaans. Die broeder het meer as ’n dekade gelede na die VSA geëmigreer, en bedien op hierdie stadium ’n Presbiteriaanse gemeente in daardie land. Uit sy oproep kon ek agterkom dat hy hier in ons geweste is, maar dit was veral dit waaroor hy my gebel het wat my gewoon weer met verwondering gevul het teenoor hoe die Here dinge reël om die Evangelie by mense uit te bring, en ook hoe Hy gebede beantwoord.

Hy vertel toe dat hy vir ’n tydjie hier in Suid-Afrika is en dat hy ook by sy ouers hier besoek aflê. By sy ouers spreek hy toe op ’n stadium die wens uit om ’n draai te gaan maak by die huis waarin hy in sy kinderdae groot geword het. Dit is geleë in ’n area hier by Durban wat die “Bluff” genoem word. Hulle sê toe aan hom dat daar nou ander mense woon, en dat hulle nie seker is of hulle selfs daarin toegelaat sal word nie. 

Maar … so voorgestel, so gedaan. 

Met die motor toe daar uitgekom, is dit toe ’n Hindoe dame wat die deur huiwerig oopmaak:

“Can I help you?”

Hy verduidelik toe aan haar wat die doel van hulle besoek is, waarna sy hulle toe versigtig laat inkom het. 

Gedurende hulle gesprek kon sy op ’n stadium aflei dat hy ’n predikant is.

Dit was toe dat sy vries, en skuins na die bediende toe draai met die woorde:

“He has come. He is here…”

Hy vra toe aan haar wat sy bedoel met daardie woorde.

Sy verduidelik toe dat sy met ’n man getroud is wat baie ongenaakbaar is in terme van sy uitlewing van Hindoeïsme, en dat sy nie kan bestuur en daarom na plekke toe ry as sy graag sou wou nie. Sy vertel toe verder dat sy nou al vir twee jaar lank bid, dat God aan haar ’n Christen prediker sal stuur om aan haar meer van die Here Jesus Christus te kom vertel. 

Dis waarom ek toe gebel is, omdat die Afrikaner-Amerikaanse predikant binnekort weer die land sou verlaat en die dame in die hande van ’n ander Evangelie bedienaar wou plaas.

Ek het die telefoonnommers wat aan my gegee is vir ’n tyd probeer, maar net geen antwoord gekry nie.

Ek en ’n ander christen jongman het haar toe ’n ruk gelede direk by die huis gaan besoek, want ek het die adres gehad. Sonder dat ons dit so beplan het daardie dag, het ons ons gemeente se christelike belydenis in Engels byderhand gehad wat ons aan haar kon gee tot tyd en wyl ’n beter geleentheid – op haar inisiatief gereël sou word vir ons om haar te kan besoek.

Sy was so  dankbaar vir alles.

Maar ek dink dalk was ons so ’n bietjie dankbaarder dat ons kon insien dat ons deel van ’n baie groter plan van God in die lewe van hierdie vrou kon wees, en dalk nog sal wees.

Bid vir haar dat sy ’n ware geloof in die Here Jesus Christus mag hê, en mag groei in kennis en heiligmaking.

Alle lof en eer aan die Here.

“En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” Handelinge 13 vers 48.

“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.” Mattheus 28 verse 19 en 20.

     


2 thoughts on ““EMMA, HY’T OPGEDAAG. HY’S HIER!”

  1. ‘n Boek deur Bilquis Shaik (spelling?), I Dare to Call Him Father. Lang jare terug uitgeleen en nooit weer teruggekry nie. Die verhaal van ‘n moslemvrou wat, ongelooflik maar waar, self tot God gekom het. Die enigste christen in haar dorp/stad. En ook biddend gesmag het na gemeenskap, gemeenskap met die heiliges.

    Hoe verwaarloos ons dit wat ons vry-uit mag geniet!
    Sal bid vir haar, maar ook dat haar man, deur haar, na God gelei mag word. Want hoe swaar moet dit wees om in so ‘n ongelyke juk te staan.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s