DIE HEILIGE GEES MAAK TOE SY Oë OOP… 

[Martin Luther, die Augustynse monnik wat deur God gebruik is in die 16e eeu om weer in krag die Goeie Nuus van Jesus Christus te verkondig]

Met die herontdekking van die Evangelie in die 16e eeu deur die werking van die Heilige Gees, in die lewe van die angstige Augustynse monnik Martin Luther, het die oë van die Heilige Algemene Christelike kerk in alle erns weer na die Griekse teks van die Nuwe Testament gedraai. Die Latynse vertaling wat vroeër in die kerk in gebruik was – die Vulgaat, was net nie meer genoeg nie. Die slagspreuk van die vroeër begonne (?) Renaissance was nou ook die teoloë, predikante en lidmate s’n: AD FONTES!  NA DIE BRONNE (FONTEINE)! Die punt? Gaan verby die vertalings en hoorsê van vromes en vertalers, na die direk geïnspireerde teks van die Woord van God. Ja dit was die ideaal. Een maal belieg deur pous en priester, dubbel so skaam om ooit weer die Heilige Woord van God uit jou hande se greep te laat vaar. Respek vir die Woord en vir die wat dit suiwer bedien in die gemeente was die algemene konsensus onder die wat met hierdie magtige stroom van kerk-reiniging en hervorming saam gegaan het. 

Die boek Romeine wat al soveel maal in die kerk se geskiedenis die helder lig van die Evangelie tot in die verste hoeke en verder geskyn het was ook toe sentraal in die uitleg en verkondiging van die Evangelie van ons verlossing. Vir lank het Luther geworstel met die woordjie “geregtigheid” [Grieks: dikaiosune]. Vir Luther was “geregtigheid” iets waaraan ons as sondaars moet voldoen om God tevrede te stem sodat ons daarna gemoedsrus kon hê dat Hy ons werklik lief het. Dalk soos ’n leer wat geklim moet word om aan die einde daarvan aan die hemelse soom te kan vat. Die probleem vir die jong monnik was egter dat hoe hoër hy geklim het hoe meer het die leer gegroei! In alle eerlikheid kon Luther nie die einde van die leer sien of bereik nie, en onthou nou, gegewe die algemene teologie van sy tyd het jy geen sekerheid gehad voor jy nie daardie laaste regte goeie werk gedoen het wat God dan finaal in jou rigting sou laat glimlag nie. Die punt is dat daardie onbereikbare droom en mikpunt nooit vir Luther aangebreek het nie – nie terwyl hy geklim het nie. Inteendeel, God het in die hele proses vir hom net heiliger, en strenger en meer onverbiddelik gereed voorgekom om hom hel toe te stuur vir die kleinste onbelyde sonde. So sou Luther vir ure aaneen die kleinste fynste sonde wat hy gehad het teenoor sy bieg-vader bely, in die hoop om weer ’n rustige gemoed te kry. Maar nee, niks wou help om sy histeries-onstuimige gewete te laat bedaar nie. Een bewende skuldige sondaar voor ’n heilige sonde hatende God wat geen maar geen uitsonderings toelaat nie. Want sy wet is mos volmaak en onverbiddelik, nie waar nie?

En toe.

Die Heilige Gees maak toe Luther se oë oop om die hart van die Romeine brief te verstaan: “Geregtigheid” nie wat jy vir God aanbied uit jou hart en uit jou pogings nie. Dit is die volmaakte “geregtigheid” van Jesus Christus wat Hy vir jou gee o sidderende sondaar. Verniet. Uit genade, alleen. Verstaan jy? Jy is sleg. Jesus was goed. En Hy is joune, sy bloedprys betaling vir jou, is vir jou betaal, en dit was genoeg. Moet nooit weer twyfel nie. Jy is volkome vrygespreek. Verstaan jy? En van hier af verder is dit ’n lewe van blydskap en dankbaarheid vir die redding en vryspraak wat jy het in Jesus Christus se werk en verdienste vir jou en in jou plek. Natuurlik, ook selfverloëning, maar nou met die krag en blydskap wat die Gees gee in die teenwoordigheid van God.

Sonde.

Redding.

Dankbaarheid.

Onthou dit. Party mense fokus meer op die een as op die ander. Sommige preke fokus meer op die een as op die ander. Sommige gemeentes fokus meer op die een as op die ander. Bid tot die Here dat al drie in die regte verhouding en balans in jou lewe sal wees.

Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos as geredde te kan lewe en sterwe?

Drie dinge: 

1 –   Ten eerste hoe groot my sonde en ellende is.

2 –  Ten tweede hoe ek van my sonde en ellende verlos word.

3 –  Ten derde hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.

“Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal. Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.” Mattheus 15 verse 19 en 20.

“Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.” Galasiërs 3 vers 10.

“Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie…” Romeine 3 verse 21 en 22.

“Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.” Romeine 3 vers 28.

“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer  dit is julle redelike godsdiens.” Romeine 12 vers 1.


Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s