DIE GEREFORMEERDE LEER VAN DIE UITVERKIESING – IETS OM OP TROTS TE WEES?

[’n Kunstenaarsvoorstelling van die groot Noord-Afrikaanse kerkvader van die heilige algemene christelike kerk -Aurelius Augustinus, saam met sy moeder. Hy word geken daarvoor dat hy veral drie dwalinge in sy tyd met groot krag en effektiwiteit bestry het. Die van die Manicheïsme; die Donatisme; en die Pelagianisme. Pelagius was ’n Britse monnik wat die christelike leer van die uitverkiesing geloën het.]

Interessant hoe die betekenis van vandag se skrywe sou verander indien mens net die vraagteken aan die einde van die titel hierbo sou verwyder. Lees dit weer, maar laat nou die vraagteken uit, en dink dan bietjie daaroor na.

Ja, leestekens bly belangrik.

Maar, kom ons gee wel sommer hier aan die begin ’n antwoord op die vraag: Is die feit dat God voordat Hy die hemel en die aarde gemaak het en toe sekere mense op grond van sy keuse as God alleen uitgekies het om gered te word, en dat Hy ander in hierdie keuse van Hom verby gegaan het, vir ons as Christene iets om op trots te wees?

Antwoord: Nee.

Die leer van die uitverkiesing soos die Heilige Gees dit aan die kerk geopenbaar het in die heilige en Goddelike Skrif, is nie iets om op trots te wees nie. Wie’s nou trots op die waarheid? Iets is mos gewoon so of dis nie so nie, nie waar nie?

Inteendeel, die belangrikheid van die leer van die uitverkiesing lê vir die christen juis daarin, nie dat hyself trots en sterk is nie, maar juis omdat hy nog swak en steeds sondig is soos die Heilige Gees so duidelik leer:

“Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees [Grieks: apo pantos molusmou sarkos kai pneumatos] reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” II Korinthiërs 7 vers 1. Want selfs as christene moet ons gees steeds van besoedeling gereinig word omdat dit gedurig vuiligheid in kry selfs as wedergebore christene.

Maar wat is die punt?

“Here, as U my nie eerste uitgekies het nie, sou ek self U nooit gekies – , my sondes bely – , en die Evangelie geglo het nie. My eie hart en wil is eenvoudig net te swart en te sleg vir dit. Dankie, dankie, dankie Here.”

“O Here, as die Here Jesus Christus my nie deur sy bloed aan die kruis kragdadiglik daar uitgekoop het nie, sou ek nooit maar nooit met sy dood en met die redding wat Hy skenk een kon word nie. Want ek is gewoon te self-gesentreerd en afsydig daarvoor. Here, dankie vir die kruis en vir die lewendmakende en reddende bloed van die Lam van God wat daar vir my gedrup het, en my uit die koninkryk van die Satan uitgered het. Ja dankie vir die kruis. Ek dank U hier ook vir die heilige sakramente van die doop en die heilige nagmaal, wat nooit maar nooit los van hierdie belofte aan my in die kruis is nie.”

“O Here, as U my nie getrek het na Uself en na die kruis van die Here Jesus Christus nie, dan sou ek ook nooit na dit gekom het nie. Want dit waarna my hart natuurlik geneig is om te smag, is nie U nie Here – vergewe my dit, maar dit is die dinge van hierdie sintuig-strelende wêreld. Dankie, dankie, dankie dat U my na die Evangelie – ja na die Here Jesus Christus getrek en my met Hom deur U Gees se werking verenig het.”

“En o Here, as U my nie by die kruis van die Here Jesus Christus hou om daar onder U heilige wet my sonde en onwaardigheid te bely en daar in sy bloed vergifnis te ontvang in dankbaarheid en hoop vir die toekoms nie, sal ek ook nooit daar bly nie. My eie hart is eenvoudig te swak en afvallig en te veel geneig na twyfel en eiewilligheid om uit eie krag aan die gekruisigde te klou tot die dood. Daarom Here, vertrou ek – ’n swak pleitende sondaar op U keuse van my alleen. U het my eerste lief gehad Here. Maak daarom tog hierdie hemelse en genade-gevulde werk wat u in my deur Jesus begin het klaar soos die belofte staan in U Heilige Woord:

‘En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie’.

Dankie Here. Ek is swak, U is sterk. Ek is sondig, U is heilig. Ek is wispelturig, U is die rots. Hou my o Here, totdat U my kom haal. Aan U o heilige drie-enige God, al die lof en die eer en die aanbidding – Vader, Seun en Heilige Gees, Een God. Amen.”


3 thoughts on “DIE GEREFORMEERDE LEER VAN DIE UITVERKIESING – IETS OM OP TROTS TE WEES?

  1. O, Frikkie, dankie!
    Daardie blik wurms wat een onskuldige opmerking oopgeruk het… ai, ai, ai.

    Ek weet wat ek glo, ek twyfel aan so baie… hierdie dowwe spieël, Paulus, dit maak my moeg. Ek wonder hoe oud was hy toe hy gesê het om te sterwe is vir my wins? Hoe smag ek na die openbaring van alle waarheid, om eendag van aangesig tot aangesig te sien, ten volle te ken!!

    Ek twyfel nie vir een oomblik aan God se Woord nie, ek twyfel dikwels aan myself.

    Skryf asb iets oor Saul…. hy wat God se Gees gehad het, saam met die profete opgetree het en uiteindelik wyk God se gees van hom en stuur Hy ‘n bose gees om Saul te treiter… Hoe verstaan ek dit? Veral gesien in die uitverkiesing? Hoe is dit moontlik? Wat van Annanias en Saffira? En die helpers wat die teenswoordige wêreld liefgekry het?

    Want ek glo die uitverkiesing is waar. Wat ek nie verstaan nie, en wat my bang maak, ons had ‘n ds, lang jare terug…. en uiteindelik verlaat hy die kerkverband, gaan as orrelis na ander susterskerk, en “klim uit die kas”, skei, en leef nou saam met sy “lewensmaat”… sovele predikante, veral in NG kerk, wat teen die Skriftuurlike praat en gaan…. hoe?? Is hulle nooit uitverkies? Is hulle uitverkorenes wat verdwaal en nog moet terug?
    Waar staan ék dan?

    As God Saul self kies en aanwys, sy Gees gee en onttrek….?

    Like

    1. Hierdie mense het waarskynlik ‘n vals oorgawe gemaak en nooit in ‘n ware verhouding met die Here Jesus geleef nie. Saul, Judas en die dominee ….
      Elke mens op aarde wat die evangelieboodskap van verlossing hoor kry die keuse om vir of teen God te kies.

      God het reeds by die grondlegging van die aarde geweet het wie Hom sal aanneem of verwerp.

      Like

      1. Beste Kirstein, dankie vir jou opmerking. Van die drie paragrawe in jou antwoord aan Marelize sou ek sê dat jou eerste een Gereformeerd is – hoewel daar nogal meer te sê is oor Saul byvoorbeeld. Jou tweede paragraaf sal ek anders stel: Elke mens op aarde wat die evangelieboodskap van verlossing hoor word vrylik daarna uitgenooi en dit op die hart gedruk om dit te glo. En dan vir baie mense die skokkende leerstelling maar wat tog skriftuurlik is vir die derde paragraaf: God het reeds by die grondlegging van die aarde BEPAAL wie Hom sal aanneem uit al die wat in elk geval reeds verlore is in sonde waarin hulle ontvang en gebore is. Kyk bietjie na Romeine hoofstuk 9, en Efesiërs 1 verse 3,4 en 5. Die Skrif is eintlik vol daarvan. Vriendelike groete Frikkie Mulder.

        Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s