PLEIDOOI VIR ’N KRAGTIGE TERUGKEER NA DIE DRIE BYBELSE GRONDTALE

(‘n Foto van een van die mees formidabele intellektuele reuse van die protestantse Reformasie – Philipp Melanchthon)

As jy na ’n video van ’n aardbewing kyk sal jy dikwels sien dat mense vinnig probeer om aan iets wat nog stewig is vas te hou. Mense vlug ook na dele waar dit meer stewig of vas is, vir so ver as wat hulle kan sien. In krisis tye gryp mense dikwels asof vanuit ’n refleks na dit wat stabiel, onbeweeglik en ook knus is. Dink maar aan die katkisasie klas wat altyd aan die predikant die redes gegee het vir waarom hulle in ’n sekere rigting wou gaan studeer. Jaar na jaar het die vriendelike seuns die Dominee geantwoord: “Ag weet u, ek stel al van kleins af daarin belang.” Of  “Aag Dominee, ek weet dat ek werklik daarvoor aangelê is, en my punte in daardie vak is regtig goed ook.” Totdat die ekonomiese krisis die wêreld begin tref het en poste aan die ander kant weer net vir mense met sekere uiterlike kenmerke gereserveer word. Toe hoor die agbare ampsbedienaar mos ’n ander deuntjie: “Nee, ek wil graag ’n geoktrooieerde rekenmeester word Dominee.” “O, dis interessant … Jy’s seker goed met REK nê?” “Nee, glad nie…” “Hoe bedoel jy glad nie?  … Om ’n GR te word is nie so eenvoudig nie, hoor ek…” “Ja, ek weet Dominee…”  “Maar?” “Maar dis, dis … waar die geld is.” In ekonomiese onseker tye gryp mense na geld, of na daar waar hulle dink “geld is”. Om ’n GR hier te word is natuurlik net ’n voorbeeld, maar dis die standpunt wat hier raak gesien moet word. Wanneer ons onseker is gryp ons na wat nie tril-en-bewe saam met die res nie – of geld dit is, is natuurlik hoogs te betwyfel.

Vraag: Maar waarna gryp ons wanneer die verwoestende handgranate en bomme van leuens en die aardskokke van mens-aanbiddende teologie ons wêreld begin ruk? Hoe staan jy sonder vrees voor mense en antwoord met ’n onwrikbare sekerheid die volgende vraag: Sê WIE? En sê jy dan: Sê GOD! Hoe sê jy dit sonder dat jy gehoor het wat God Self sê?  Interessant, hulle vertel dat die rede vir die toga’s wat predikante in my geslag nog gedra het, dood eenvoudig die volgende was: “Ek het die pampiere! Ja, ek het nie my kennis oor die Bybel en oor die omvang van christelike teologie uit daardie geel-en-swart ‘Exclusive Books’ boek – ‘Theology for Dummies’ gekry nie. Ek lees Hebreeus, en ek lees Aramees, en ek lees ook Grieks.”

Absoluut verbysterend dat jy nie enige iemand sal toelaat om hartchirurgie op jou te doen as hy net ’n drie jaar diploma’tjie het nie. Maar die wat oor jou verhouding met God in jou lewe inspreek kan maar met sy “onbeskryflike ervaring en mooi verhale” sommer more al jou nuwe predikant word! Luister hier: Skuif na ’n gemeente waar daar erns met die woord van God gemaak word. Waar die geroepe predikant onderlê is in Hebreeus; Aramees en Grieks; en Jesus Christus en Hom as gekruisigde in die krag van die Heilige Gees verkondig. Pasop ook maar vir daardie plekke waar die sakramente bloot is wat ek doen. Soos mense dikwels oor die doop sê: “Die dag toe ek my … (ensovoorts)”. Wat die nagmaal betref – nie ek wat as sondige mens kom om aan die tafel van die Here te kom ontvang  uit sy hand nie, maar ek wat handel en ek wat doen en ek wat verklaar met my deelname daaraan.

Mag die Here onder geroepe jong mans die vuur en die branding weer laat posvat – soos in die tyd van die magtige en God-gestuurde Protestantse Reformasie, wat sal smag na die fonteine, ja die bronne. AD FONTES! was die kreet, en daarom was die moeilike Bybelse tale toe so belangrik, want om te verstaan en te glo en suiwer te mag preek is nie iets wat gewoon uit vertalings opgekook word nie. “Ja, maar ek kan dan nie Grieks lees nie. Is ek dus nie ’n christen nie?” “Nonsens man! Maar waarom sit jy onder prediking waar die prediker nie eens ordentlike Afrikaans kan preek nie, hê?”

Onlangs by ’n konferensie waar talle predikers teenwoordig was, en ek hoor toe die spreker vra: “Hoeveel van julle berei nog eerlikwaar julle preke voor uit die oorspronklike Hebreeus en Grieks?” Twee hande het opgegaan (O Wee!). Mag meer en meer jongmanne die wysheid en waarheid in die woorde van Martin Luther se groot vriend Philipp Melanchthon insien:

“Die Skrif kan nie teologies verstaan word, mits dit eers grammaties verstaan word nie.” Om te weet dat die Here jou lief het, stuur Hy herders en leraars wat dit uit die Hebreeus en Grieks vir jou in jou mooi taal vertaal en dit dan ook helder en met krag aan jou verduidelik. Dis waar: Die Evangelie van Jesus Christus is eenvoudig, maar sy bestandele – vanuit Hebreeus; Aramees en Grieks is van die rykste; diepste en mees gesofistikeerde wat êrens en verder gevind kan word. Moenie met minder as die beste en mees akkurate tevrede wees nie!

“Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad [Grieks: tw spermati], dit is Christus.” Galasiërs 3 vers 16.

“…Want Ek die HERE jou God is ’n jaloerse God [Hebreeus: El qana] …” Exodus 20 vers 5 b.


One thought on “PLEIDOOI VIR ’N KRAGTIGE TERUGKEER NA DIE DRIE BYBELSE GRONDTALE

  1. Ds Frikkie, jy haal ‘n groot ding hier op.
    Wanneer ‘n predikant verstaan dat sy gemeente uit beide “kinders” en “jong volwassenes” in die geloof bestaan, dat hy beide moet voed, maar ook ‘n moontlike rekruut in die erediens mag hê. Dan word die preek voorbereiding ‘n uitdaging wat beslis nie sonder baie gebed en leiding aangepak kan word nie.
    Soms, wanneer ‘n preek hoogdawerend bo die gemeente se koppe rondspoel, raak ek moedeloos. Dan dink ek aan die Hallelujalied – Bring my die ou ou tyding… op bring dit my eenvoudig, soos aan ‘n kindjie klein…
    Uit die grondtale – ek wonder of dit selfs in my kerkverband (waar suiwer Skrifverkondiging nog ‘n werklikheid is) regtig nog gebeur. So maklik om maar net die ’83 saam met die ’53 te gebruik as toeligting.
    Dankie vir julle wat nog daadwerklik Skrifgetrou preek en leef. Ons het dit waaragtig nodig!

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s