SO ‘N KORTERIGE VERHAAL UIT DIE TYD VAN DIE PROTESTANTSE REFORMASIE – Frikkie Mulder

‘n Turkse uitbeelding van die rampspoedige Slag van Mohac in 1526 tussen die Hongare en die Turke, waarin duisende der duisende Hongare gesneuwel het.

Ek en die koningin van my kasteel het so 14 jaar gelede teruggekeer na Suid-Afrika na ’n tydperk van ongeveer vier-en-’n-half jaar van sendingwerk, in die Krim-skiereiland. Dit was op daardie stadium nog deel van die Oekraïne. Gedurende ons tyd daar is ons op ’n keer uitgenooi na ’n konferensie in die weste van die land agter die Karpatia berge, ’n area wat gewoon bekend is as Zakarpatia. Wat die plek interessant maak is dat dit vroeër eintlik deel van Hongarye was, maar nou binne die grense van die land wat in Sowjet tye bekend gestaan het as die “Evangeliese klokkie”, en ook as die “broodmandjie van die USSR” – die Oekraïne natuurlik, geval het.
Die Hongaarse taal is baie interessant, en daar word vertel dat die Hongare self iets van ’n identiteitskrisis het in terme van waar hulle regtig vandaan kom. Volgens legende is hulle eintlik ’n Asiatiese volk wat deels verklaar waarom hulle taal so anders as die omliggende Europese tale is. Die Finse taal sou een-of-ander nefie-taal van hulle s’n ook wees.

In elk geval, by die konferensie en al kuierende met medegelowiges daar, vertel iemand van een van die plaaslike kerke daar ons toe die volgende stuk geskiedenis uit die tyd van die Groot Protestantse Hervorming:

In en na die tyd van Martin Luther en Johannes Calvyn het die Evangelie soos ’n veldbrand Hongarye ingeval, en so het 90% van Hongarye uiteindelik Gereformeerd geword. Maar dit was ook die tyd van die wes-waartse opmars van die nuwe sekel-swaaiers van die Mohammedanisme of Islam, naamlik die Turke. So het dit uiteindelik gebeur dat die magtige hordes van die Sultan van die Ottomaanse Ryk – Suliman die “Manjifieke”, van die ooste af, Europa begin binne stoot het. Wat die weerlose Hongarye betref is uiteindelik 30% van die land onder die mag van hierdie voortstuwende sekel-tog gebring.

Hier is dit belangrik om in te sien dat Ignatius van Lojola se jesuïties-pousgesinde stormtroepe van die Kontra-Reformasie, geen Gereformeerde in Hongarye sou spaar in hulle pogings; probeerslae; of listighede om die lande van die Madjar – Hongarye, weer onder die septiese septer van Rome te kry nie. En so was hulle toe ook suksesvol om die 60% van gemeentes wat buite die Turke se beheer was, van hulle predikante los te skeur. In die suksesvolle oorrompeling van die Gereformeerde Hongaarse gemeentes deur die kadawer-gehoorsame, maar strydlustige pionne van die Roomse antichris, is die meeste van die Dominee’s gearresteer, en verban om gallei-slawe op die skepe in die Middellandse see en verder te word.

Maar met 60% van die gemeentes terug in die pous van Rome se beursie, was die Kontra-reformatore nie tevrede nie. Hulle wou nog ook die 30% wat onder die Turke se beheer was inpalm. En so het hulle die Turke toe genader met beskuldigings van afgodery en dwaalleer “teen hierdie ketterse Calviniste onder julle beheer.” Die Turke was egter nie oorhaastig nie, en het hulle besoekers verseker dat hulle ondersoek oor die saak sou doen. So het daar toe sommige hulle geledere verlaat om agter die kap van die byl te kom oor wat die situasie nou eintlik is. Hulle het onder andere die katedrale onder Roomse beheer, maar ook eredienste waar Gereformeerdes aanbid het, besoek. Toe dit vir die Turke tyd word om terug te rapporteer, was die Jesuïete seker hulle sou gou die argument wen:

“En, kan julle nou sien dat hierdie Calviniste ketters is?”

Antwoord die Turke toe:

“Ons het julle katedrale met al die beelde en afgode besoek, en ons het ook die geboue waarin die Calviniste aanbid besoek. Ons konklusie is dat die eintlike afgodsdienaars nie die mense is wat julle beskuldig nie, want hulle geboue herinner nogal baie aan ons s’n aan die binnekant. Maar die eintlike skuldiges is julle!”

En die Turke het toe volstrek geweier dat die Jesuïete enige iets aan die gereformeerdes onder hulle eie juridiksie doen.

So loop die verhaal, dat uiteindelik toe die Mohammedaanse Turke onttrek het uit Hongarye, die enigste Gereformeerde gemeentes in die hele land wat behoue gebly het , dies was wat onder die “beskerming” van die Turke die kontra- of Teen-Reformasie van Rome oorleef het.

Ek het later in Turkye self – Istanbul, ’n brosjure in ’n Turkse Gereformeerde kerk gelees wat vertel het hoe Suliman selfs in later jare by die Spaanse koning daarop aangedring het om nie Gereformeerdes in die land te vervolg nie – Suliman moes een of ander affiniteit vir hulle ontwikkel het oor tyd.

Wat die verhaal my geleer het is dalk veral twee dinge:

1. God gebruik ook ongelowiges of heiden regerings om op die lange-duur tot voordeel van sy kerk te wees. Mens dink hier dalk aan koning Kores in die Bybel.

2. Gereformeerde argitektuur of dalk eerder, die gereformeerde inrigting van kerkgeboue waar die fokus nie soos by Anglikane of Lutherane en veral Roomses ’n sterk appel op die sintuiglike kleure en geure maak nie, is iets wat ons behoort te koester, en ook verder uit te dra. Dit het dalk veral daarmee te make dat God se transendensie op hierdie manier beklemtoon word. Natuurlik is die ideaal nooit ‘n estetieslose, droë, onverbeeldingryke, bar struktuur nie.

Laastens net nog iets interessants. Johannes Calvyn het in sy tyd ’n formulier vir die aflê van belydenis in die kerk deur bekeerlinge uit die Mohammedanisme opgestel, wat daarop dui dat redding vanuit daardie Midde-Oosterse afgodsdiens nie iets onbekends en ongewoon was in die tyd van die Reformasie nie.


2 thoughts on “SO ‘N KORTERIGE VERHAAL UIT DIE TYD VAN DIE PROTESTANTSE REFORMASIE – Frikkie Mulder

  1. Dankie Frikkie, interesante artikel. Ook in Indië vind ons die Roomse kerke lyk amper soos Hindu tempels met baie beelde en sogenaamde portrette van Jesus en Maria ens.
    Hier kry ons weer baie Sufies wat weer nader aan die universialisme vd Hindus en vd verligtes beweeg. Hulle bid by ‘heiliges’ se grafte en is ook meet oop vir verskillende maniere om by God uit te kom.

    Liked by 1 person

    1. Beste Gerhard, so goed om van jóú te hoor! Jy skryf “Hier kry ons…” Is julle net op ‘n uireik na Indië, of is julle nou meer permanent daar? Oor jou opmerking: Ja, wat dit verskriklik maak is dat mense wat dan Rooms word meen dít is Christenskap! ‘n Hartverskeurende struikelblok vir die Evangelie. Vriendelike groete Frikkie Mulder.

      Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s