‘N LIEFDE GROTER AS EK

  Geen sagter kussing vir een wat twyfel nie.

Vir die sondaar wat absoluut bewus is van sy eie bose hart wat een millimeter weg van twyfel en ongeloof af huiwer, is die kruis van Jesus Christus glad nie goeie nuus as hy nie ook ín dit, die onwrikbare sekerheid het dat die liefde van God en die bloed van die gekruisigde wat sy sondes weg was, oneindig groter is as sy geneigdheid tot afvalligheid en heidense ongeloof nie. 
Prewel hy: 

“Jesus het vir my sondes gesterf aan die kruis, maar ek weet nie of ek more nog sal glo nie. Want dit is hierdie einste hart van my wat ek die meeste vrees! Waar sal ek ’n redder vind wat nie net groter as my sonde is nie, maar wat groter as my sondige ek is?!” 

O die vrot-en-vuil vertroosting van die wat probeer om so ’n stotterend-bevreesde gewete tot bedaring te bemoedig: 

“Doen jy net jou deel! Dan sal Hy jou vas hou vir ewig!” 

Maar wat beteken “my deel” dan? 

Om aan te hou glo? Dis dan juis ekself wat ek nie vertrou nie! Hoe durf jy my na die bron van my angs en ontsteltenis stuur vir stabiliteit? Verstaan jy dan nie? As daar geen redder is wat groter as ek en my vermoë om te kies is nie, sê ek vandag vir jou sal ek nie eendag verlore wees nie. Ek is dan reeds verlore, gebind in die kloue van die duiwel. Want as ek kies, kies ek gewoonlik verkeerd.

Vir al my sondes gesterf sê jy…

Maar wat van my? 

Het Hy ook daar vir my gesterf om my van mysélf te red? 

Want om vir elkeen van my sondes te sterf is nog nie om vir die bron van my sondes te sterf nie, en daardie bron is ek. Verstaan jy? 

Ek, die fontein van sonde wat vanuit my lewe na vore kom.

My vriend. Hou daarom maar jou Redder wat vir my sondes, maar nie vir my gesterf het om my van my eie hart te verlos nie. Want dit is net Hy wat aan daardie kruis nie net sy liefde vir my gewýs het nie, maar my ook daar kragdadiglik uitgekoop het wat ’n Redder is wat groter as ek is. Verstaan jy? 

Mag ek jou vertel wat my enigste troos in lewe en in sterwe is? Ek wil jou graag vertel. My enigste troos of ek nou lewe of ek dood gaan, is dat ek heeltemal – met my liggaam en met siel nie aan myself behoort nie. Ek bedoel: Ek is nie myne nie, maar ek is die Here Jesus Christus s’n – ek is sýne. Hy is my Verlosser wat altyd-altyd getrou is. Hy het heeltemal vir al my sondes betaal met sy oneindige kosbare bloed wat Hy aan die kruis gestort het, en Hy het my ook uit alle mag van die duiwel verlos. Hy bewaar my ook op so ’n manier dat sonder die wil van my Vader wat in die hemel is, nie ’n haar van my kop kan afval nie. Ja, alles moet en sal op my ewige redding uitloop. Daarom gee Hy aan my die sekerheid deur sy Heilige Gees dat ek die ewige lewe het, en maak Hy my ook gewillig en lus om van nou af net vir Hom te leef. 

“Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.” Esegiël 36 verse 25 tot 27.
   


One thought on “‘N LIEFDE GROTER AS EK

  1. Frikkie…
    Weet jy, sal jy ooit besef hoe God jou gebruik?!
    Wanneer ek daar, daar diep onder in ‘n gat lê. So absoluut bewus van my totale onvermoë, van my afvalligheid, my sonde…. o, die selfhaat!!!
    Dan, dan as moedverloor op my sitkamerbank sit en kekkel, ek seker weet dat ék in myself nooit ooit die pad terug sommer net sal kry nie, dan dwaal ek deur ou ongeleesde e-posse en trek ‘n opskrif my nader.
    Liefde. ‘n Liefde so oneindig groter as ek, ‘n liefde wat alles omvat – ook vir my.
    Ek smag om tog ‘n Henog te mag wees, maar ai… ek, ek is ‘n Dawid, ‘n Paulus, ‘n Petrus.
    Die goeie wat ek wil….
    Dankie, net maar dankie.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s